Jump to content

Afrikaner-Volkseenheid/Samesmelting

From Wikisource
Tielman Roos Afrikaner-Volkseenheid
Samesmelting
deur D. F. Malan
My Manifes


Die samesmelting van die Suid-Afrikaanse en die Nasionale Party, wat die hoofdoel van Roos se propaganda was, het, hoewel met tragiese gevolge vir homself, tog plaasgevind. Smuts en Hertzog het hul partye geamalgameer en die leierskap daarvan gesamentlik aanvaar. Dit was geen langsame, natuurlike proses, soos 'n mens in sulke omstandighede sou verwag het nie, maar het gekom soos 'n donderslag uit die bloue hemel.
Sonder voorafspraak of verstandhouding het Smuts die inisiatief geneem, Roos se doelstelling van 'n ,,National Government’’ sonder meer oorgeneem, en as Opposisieleier 'n mosie in die Volksraad voorgestel wat dit eis. Hertzog verwerp dit toe onmiddellik in die sterkste bewoordinge. ,,Langs die weg van koalisie,’’ so het sy reaksie gelui, ,,is daar vir die volk van Suid-Afrika, altans vir daardie deel wat dit eerlik en opreg bedoel,’’ so het hy voortgegaan, ,,niks te verkry in die rigting van verbeterde samewerking en gevoel tussen die rasse nie. Vir die teleurgesteldes, die baantjiesoekers en diegene wat griewe koester, daarentegen, is alles te hoop, omdat onder sulke omstandighede daar altoos iets is om te aas.’’ Sterk taal voorwaar!
By die hoofdelike stemming is Smuts se mosie met 83 stemme teen 63 verwerp. En tog, ten spyte hiervan – en wie sou dit ooit kon verwag het ? – knoop die twee generaals eiemagtig onderhandelings met mekaar aan, besluit tot 'n koalisie tussen hul partye, wat spoedig ook tot 'n amalgamasie oorgegaan het, en ten minste in genl. Hertzog se geval, stel hy sy medeministers, sy koukus en sy party nou voor 'n voldonge feit. In 'n demokratiese land en in 'n demokratiese party was so iets beslis ongehoord. En dit alles in die tydperk van 'n paar dae. Soos dit later geblyk het, het konfidensiële onderhandelings met hierdie resultaat eiemagtig plaasgevind tussen Hertzog en Havenga aan die één en Smuts en Duncan aan die ander kant. Aan die Nasionale Party-kant was die loop van sake toe as volg:
Op die eersvolgende N.P.-Koukusvergadering staan genl. Conroy op om 'n vraag aan genl. Hertzog te doen, naamlik of daar tussen hom en genl. Smuts onderhandelings plaasgevind het oor ,,toenadering en samewerking’’ - iets wat die Generaal tevore in 'n personderhoud ontken het. Die Generaal antwoord dadelik, en doen dit van aantekenings in sy hand - 'n bewys natuurlik van sorgvuldige voorbereiding. Die antwoord was bevestigend. Daarop het ek dadelik geantwoord dat ná genl. Hertzog se baie besliste verwerping van Smuts se mosie in die Volksraad, en gesteun deur die Volksraad self, die saak sover dit ons party betref, as afgehandel beskou moes word. Ek in ieder geval staan daarby. Intussen is nóg die Kabinet nóg enige bestuursliggaam van die Party van so 'n belangrike ontwikkeling in kennis gestel, laat staan nog in verband daarmee geraadpleeg.
In hierdie stadium het die Generaal toe begin om met die onderskeie ministers individueel kontak te maak. Aangesien die koalisie toe alreeds, basis en al, tussen Smuts en Hertzog aangegaan was, was daar vir raadpleging geen ruimte meer nie. Die onderhoude was alleen bedoel om vas te stel hoe die ministers individueel daarteenoor staan. My eie reaksie was soos dié in die koukus. Daarby het ek nog dit gevoeg: ,,Generaal, u is ons leier, en die volk glo aan u. Toe u kort gelede die voorgestelde koalisie met genl. Smuts wortel en tak veroordeel het, en u redes gegee het, het die volk u geglo en gevolg. Skielik swaai u nou om en aanvaar wat u kort tevore in die skerps moontlike taal verdoem het. Is dit sielkundig moontlik om te verwag dat die volk ook ewe skielik sal omswaai en nou sal omhels wat hy 'n paar dae gelede op u gesag nog met beslistheid verwerp het ? Ek vrees dat ek dit nie kan doen nie, en baie ander van u volgelinge ook nie.”
Die volgende stap vir die Generaal was nou om voor die koukus sy stap te regverdig waartoe hy deur geen enkele party-bestuursliggaam gemagtig was nie, en waaromtrent hy selfs ook geen enkele geraadpleeg het nie. Die wyse waarop hy dit gedoen het, is bewaar geword in die kort aantekenings van sy toespraak deur ds. C. W. M. du Toit, Volksraadslid vir Colesberg, wat ek nou nog in my besit het. Ek haal daaruit die volgende aan. Die informasie is dus eerstehands:
,,Daar was geen onderhandeling met genl. Smuts, hetsy regstreeks of onregstreeks nie.
,,As ons met ons eie krag na die volgende verkiesing moet gaan, sal ons verloor . . . Ons sal 'n nederlaag ly, en dit sal klaar wees met die Afrikanerdom.
,,Daar is 'n breuk in die S.A.P., met die jingo's aan die een kant en die Afrikaners aan die ander kant. Smuts en Duncan het in die Raad opgestaan en ons die hand van samewerking aangebied. Hulle is net so gretig om weg te kom van daardie jingo's. Gaan ons die aanbod afwys, of gaan ons probeer om te sien of daar iets is om te doen wat kan lei tot samewerking tussen die Afrikaner-SAP en ons en ook die Engelsman wat dit wel meen met ons. Dit is die verskil tussen my en dr. Malan.
,,As ons die aanbod tot samewerking nie aanneem nie, dan drywe ons genl. Smuts in die hande van die jingo's. Hy sal aan ons sê: Ek wou wegkom van die jingo's, en het my hand aan julle aangebied, maar julle het dit geweier . . .
,,Ons gaan nie saamsmelt nie, maar ons gaan 'n Paktregering vorm.
,,Of my vriende in die Kabinet by my staan of nie, ek sal my plig moet doen . . .
,,Ek gaan 'n kongres belê om te besluit of ek reg gehandel het, en as die kongres my handelwyse afkeur, dan sal ek bedank. Dan kan julle 'n ander leier kies.”
Die verdere verloop van sake, so kan ek nou al dadelik aanmerk, het hierop 'n verdoemende kommentaar gelewer. Ten eerste, ,,samesmelting’’ het byna dadelik op koalisie gevolg.
Ten tweede, die S.A.P., wat kort tevore self die Unioniste (imperialiste) heelhuids ingesluk het, het weliswaar van ,,jingo's” gewemel, maar toe van ons kant te kenne gegee is dat samewerking, maar sonder hulle, wel deur ons oorweeg sou kon word, was genl. Smuts se dadelike antwoord: ,,Nee, sonder my oud-Unioniste geen koalisie nie.” En genl. Hertzog het dit aanvaar. Daarteenoor het genl. Smuts nooit opgehou om ons Nasionale Party se herenigingsbeleid, wat bymekaar wou bring onder andere dié wat in die ou S.A.P. vroeër reeds bymekaar was, te bestempel as rassehaat puur en simpel, wat daarom beveg moes word nie. Met die oog op die bowestaande mededelings aan die koukus deur genl. Hertzog het die vraag dikwels by my opgekom of genl. Smuts moontlik, ten einde sy doel te bereik, genl. Hertzog dit in die oor gefluister het dat tussen hom en die jingoïstiese deel van sy eie party dit maar bra sleg gesteld was, en dat hy daarom die reddende hand van die Nasionaliste nodig gehad het. Iedereen kan hieromtrent dink wat hy wil. Ek dink alleen maar, en hierin sal niemand my teenspreek nie – dat genl. Smuts heelwat mensekennis, selfs ook van sy teenstanders, besit het, en dat hy daarby stellig ook nie politiek dom was nie.
In hierdie stadium was daar aan die loop van sake blykbaar geen keer meer nie. Genl. Hertzog het binnekant sy party al meer outokraties begin optree, en teen alle opposisie in die standpunt ingeneem dat hy die hoofleier was, en as sodanig die volle verantwoordelikheid op homself alleen sou neem.
Die goedkeuring of selfs die raadpleging van sy partyliggame, te wete die Federale Raad, die Uniale kongres en die provinsiale kongresse, was daarom nie nodig nie. Wat die Kabinet betref was daar vir hom slegs nog 'n sifting nodig tussen voor- en teenstanders van koalisie. Met die oog daarop is daar toe 'n samekoms van die ministers gereël waarop elkeen sy standpunt moes openbaar. Ten gunste van koalisie was daar toe, behalwe genl. Hertzog self, Havenga en Pirow. Daarteen was, behalwe ek self, Charlie Malan, Beyers en Fourie. Van die res het Piet Grobler en Kemp 'n weifelende houding aangeneem, wat daarop neergekom het dat hul nie juis daarvoor was nie, maar dat daar tog iets ten gunste daarvan te sê was. Jansen weer was wel daarteen maar was tog bereid om hom by die leiding van genl. Hertzog neer te lê. Dat die toestand nou 'n ernstige stadium bereik het, het hieruit geblyk dat genl. Hertzog na hierdie sifting tot sy ministersraad opgeroep het alleen diégene wat hom ondersteun het. Die res het hy geïgnoreer. Die skeuring was met ander woorde toe alreeds daar. Genl. Hertzog kon nou voortgaan met die vorming van sy nuwe koalisie-kabinet, en ek weer moes my standpunt nou verduidelik en regverdig voor die volk. My ministerspos wat ek nege jaar lank beklee het, sou ek vanselfsprekend verloor.
Namens myself en my 29 mede-antikoalisie-partygenote in die Parlement het ek dan nou ook ons standpunt in 'n Manifes verduidelik, waarin ons onder andere ons besware teen koalisie herhaal het, ons bereidwilligheid te kenne gegee het om ter wille van ons eenheid ons daarby neer te lê, maar onder protes, en veral ook onder die uitdruklike voorwaarde dat daar geen inbreuk gemaak sal word op Nasionale Party-beginsels nie, en verder ook dat die koalisie self as 'n tydelike maatreël beskou sal word, en nie tot samesmelting sal oorgaan nie. Vir hierdie standpunt het ek genoegsame grond gehad in die bepaling in ons Party-konstitusie, wat samesmelting as sodanig beslis en by name afkeur, maar samewerking met 'n ander politieke party vir 'n gemeenskaplike maar tydelike doel, en volgens 'n vaste program toelaat. Die gebrek aan geloof en selfvertroue geopenbaar deur die argument dat ons sonder koalisie die volgende verkiesing sou verloor, het ek betreur as ware Nasionalisme onwaardig. En verder het ek daarvoor gepleit, dat solank as die twisappel van koalisie ons nog van mekaar mag skei, die fundamentele eenheid, wat ons nog altyd aan mekaar bind, nie deur ons vergeet of veronagsaam mag word nie, en dat daar geen persoonlike vendetta tussen leiers gevoer sal word nie, en veral ook nie teen genl. Hertzog nie. Daarvoor het ons volk en ons party te veel aan hom te danke.
Die koalisie-voorstanders het voorgegee dat die samesmelting van die twee partye die totstandbring van 'n volkome eenheid beteken. Ten spyte van die sewepuntige basis, wat uitdrukking daaraan moes gee, en wat met vage algemeenhede oor die fundamentele verskilpunte van vroeër ligtelik heen geskipper het, was heelwat verduideliking nodig om die onrus aan beide kante te stil. Die gevolg was 'n amusante kruistog deur die twee hoofleiers afsonderlik, die een om te verduidelik dat die Nasionale Party, en die ander dat die S.A.P. hoegenaamd niks prysgegee het nie. 'n Mens sou byna sê dat hul nooit van mekaar verskil het nie, en die stryd van die verlede 'n onnodige en roekelose daad was. Die toets was egter in ons hande. En aangesien ons gevra was om ons party prys te gee vir 'n nuwe, was 'n toets volkome op sy plek. Ons moes weet waar ons staan. Gevolglik het daar plaasgevind wat bekend gestaan het as die Erasmus-Hertzog-korrespondensie.
Adv. Erasmus as ons Party-sekretaris het namens ons Kaaplandse Nasionale Party-Hoofbestuur, waarmee hy in gedurige kontak gebly het, aan genl. Hertzog vrae gestel om uit te vind wat sy standpunt omtrent sekere fundamentele vraagstukke nou eintlik was. Dit was as volg: 1. Of die voorgestelde nuwe party bedoel was om bymekaar te bring alleen Afrikaners – Afrikaans- sowel as Engelssprekend – met dieselfde innerlike politieke oortuigings, 2. of ons soewereine onafhanklikheid in die program van beginsels so beskryf sal word, dat daar geen twyfel kan bestaan omtrent die betekenis en die inhoud daarvan nie, 3. of die reg vergun sal word om propaganda vir 'n republiek te maak, 4. of die Goewerneur-generaal voortaan 'n landsburger sal wees, 5. of die reg van appèl na die Geheime Raad afgeskaf sal word en 6. of ons nasionaliteitswette in ooreenstemming met die Unie se status gebring sal word. Hierop het genl. Hertzog as volg geantwoord:
(Korrespondensie van Kaaplandse Party met genl. Hertzog.)
1. Ja ! Mits die vrae na wie Afrikaner is, en wie almal van dieselfde innerlike oortuiging mag wees, getoets en beslis mag word deur die onderskrywing van die beginsels en konstitusie van die Party. 2. Ja ! Aan die deelbaarheid van die Kroon en die reg van neutraliteit en van afskeiding durf niemand van ons twyfel nie, of selfs die skyn gee van te twyfel nie. 3. Ja ! 4. Ja, dit kan geskied indien dit die begeerte van die volk ook sal wees. 5. Die Regering sal dit in behandeling neem sodra sekere hangende hofsake afgeloop sal wees en 6. die Regering is reeds besig om op die vraagstuk in te gaan en te sien of verandering nodig is.
Die publikasie van hierdie korrespondensie het in Smeltersgeledere onmiddellik 'n eersterangse krisis veroorsaak. Met die begin van die Volksraad se volgende dagsitting het genl. Smuts, blykbaar diep ontsteld, en oënskynlik sonder om iemand anders raak te sien, deur die wandelgang van die Raadsaal gestorm na genl. Hertzog se kamer. Dit was Vrydagnamiddag en iets, wát dan ook, moes daar blykbaar nou gebeur. En dit het ! 'n Dringende Kabinetsvergadering moes nou gehou word, maar omdat Havenga eers spesiaal uit die hospitaal, waar hy siek gelê het, gehaal moes word, kon dit nie plaasvind vóór Sondag en wel by Groote Schuur nie. Die resultaat was dat op die mees fundamentele beginsels genl. Hertzog gekapituleer het, of sê liewer, dat daar 'n diepgaande verskil binnekant die nuwe party bly bestaan het, en wel met sy instemming –’n verskil, wat vyf jaar daarna die uiteenspatting van die saamgesmelte party veroorsaak het, en daarby ook nog die einde van genl. Hertzog se eersteministerskap. Die ooreenkoms was naamlik een om te verskil, en onder andere is dit ook so aangekondig in die gepubliseerde briefwisseling tussen die twee leiers, dat hul wel die kwessie van die deelbaarheid van die Kroon, die reg van neutraliteit en van sesessie bespreek het, maar tot die besluit gekom het dat ten spyte van hul verskil daaromtrent ,,dit sake is van interpretasie, waaroor ons kan verskil, en waaroor ons nie geroepe is om tot 'n beslissing te kom by die opstelling van 'n program van beginsels nie”. Die hiermee erkende fundamentele verskil tussen die twee hoofleiers, rakende die grondslae van ons volksbestaan en van ons volksvryheid, is dus onveranderd net so deur hul oorgeplant na die nuwe verenigde party. Van die aanvang af was die kiem van verdeeldheid dus daar aanwesig. Dit was 'n poging om die onversoenbare met mekaar te versoen, naamlik nasionalisme en imperialisme. Daar sou dus voortgebou word op 'n gekraakte fondament. Die noodlottigheid hiervan het geblyk toe die toets in 1939 met die uitbreek van die oorlog gekom het.
Die stryd tussen die koalisie en die anti-koalisiegesindes het in heftigheid nou toegeneem. Op vergaderings aan die Nasionale Party-kant, sowel as in ons pers, is dit oor die algemeen met gematigdheid gevoer. Aan genl. Hertzog se kant egter, gelei deur homself, sowel as deur sy politieke lyfwag van parlementslede hoofsaaklik uit die Vrystaat, het bittere persoonlike aanvalle nie ontbreek nie. Daaroor trek ons nou maar liefs die sluier ! Maar met die skeuring eenmaal daar moes op party-organisasiegebied sekere stappe onvermydelik gedoen word.