Jump to content

Afrikaner-Volkseenheid/Vreemde Ideologieë

From Wikisource
Die Heropbou Afrikaner-Volkseenheid
Vreemde Ideologieë
deur D. F. Malan
Die Hertzog-tragedie


Die Suid-Afrikaanse volk was seker nooit sterker onder die invloed van vreemde ideologieë as gedurende die tydperk tussen die opkoms van Hitler in Duitsland en sy val en selfmoord in 1945. Die grond was daarvoor vrugbaar. Daar was oorlog en die uitslag was vir geruime tyd heeltemal onseker. Agter die militêre mag aan Duitse kant was daar die mag van 'n idee, naamlik dié van 'n sterk regering gegrond op strenge volksdissipline en daarom in staat om alle euwels te oorwin en uit te roei. Mag was die geheim, en die uitoefening daarvan, desnoods met geweld, was die middel. Die Nasionaal-Sosialisme was die geloof. Die demokrasie of volksregering in enige vorm was beskou as swakheid, en daarom uit die bose. Hitler se Duitsland was in sekere bepaalde kringe in Suid-Afrika die ideaal, en organisasies met daardie doelwit voor oë het ontstaan, almal ook in die verwagting dat die Duitse Nasionaal-Sosialistiese regering die oorlog sou wen, en in Suid-Afrika dan minstens ook die toon sou kom aangee. So het onder andere ontstaan, in getroue navolging van die Duitse model, verskillende organisasies, onder andere die Steyn-Vorster-groep in Transvaal, die Ossewa-Brandwag (O.B.), die Nuwe Orde, die Gryshemde en ander hempbewegings van minder belang. Almal was Nasionaal-Sosialisties van aard met 'n min of meer Suid-Afrikaanse kleur, maar met Duitsland as die bron van hul inspirasie. Hulle het geteer op die Afrikaner se republikeinse vryheidsgedagte, en het die demokrasie verwerp as 'n euwel. Die stryd was dan ook hoofsaaklik gerig teen die politieke partywese en meer besonderlik nog teen die Nasionale Party.
Die Steyn-Vorster-groep was gesetel in Pretoria en hul orgaan was Die Republikein. Die volgende paar uittreksels sal sy karakter en strewe genoegsaam aandui:
1. ,,Met één groot kragsinspanning ná behoorlike voorbereiding wil hulle 'n radikale omwenteling teweegbring, waardeur ons volk op die gebied van Christelikheid, onderwys, kultuur, staatkunde, stoflike welvaart, in alles, herstel sal word in sy eersgeboortereg en in sy heerskappy in sy eie en enigste vaderland.
2. ,,Ons wil 'n republiek as die enigste redding van ons volk inderdaad verwesenlik, al moet die tradisionele laaste argument van die Boer (te wete die geweer) gebruik word. Maar ons besef dat dit vreedsaam kan geskied as ons regering beheer het oor die pers, die bankwese en die geldmag, en oor die militêre mag. Met ingrypende maatreëls en besliste optree kan hy dit in drie of vier jaar bereik.
3. ,,Die hoegrootheid van die regering se meerderheid het met die saak niks te doen nie, en die gunstige omstandighede moet hy self skep.
4. ,,As één van die eerste stappe sal die regering moet oorgaan tot die stigting van 'n republikeinse eenheidstaat en die partypolitieke stelsel moet afskaf.”
In hierdie rigting is die begrippe weliswaar primitief en verward, maar die Nasionaal-Sosialistiese agtergrond is onmiskenbaar. In 'n ontvlambare atmosfeer kon dit egter gevaarlik en vir ons konstitusionele stryd noodlottig word, en bowendien ons swaar verkrege volkseenheid aan stukke skeur. Ek moes dus die strydbyl opneem, 'n paar groot vergaderings hou en uiteindelik in die Transvaalse N.P.-kongres die finale slag lewer. Hiermee was die Nasionaal-Sosialistiese gevaar egter nie verby nie. Dit het maar net begin.
Die staatkundige vernietiging van die volksregering het in Europa nou met rasse skrede vooruitgegaan en volgens Duitse model het daar ook in Suid-Afrika organisasies ontstaan om dit ook hier te bewerkstellig. So was daar onder andere die verskillende hempbewegings (grys en bruin en op kleiner skaal moontlik nog ander), die Ossewa-Brandwag (volgens militêre model) en die Nuwe Orde, wat die staatkundige aspek moes verteenwoordig. Die onderliggende idee was egter by almal dieselfde as by Hitler se Nasionaal-Sosialisme, naamlik die sogenaamde gesagstaat bestaande uit 'n hegte volkseenheid gebaseer op die konsentrasie van mag in die hande van enkele, en die daarmee gepaard gaande vernietiging van alle vorme van volksregering. Hulle het nie geglo in ,,kruisies" nie, soos die O.B. volgens hul onderleier, J. A. Smith, dit uitgedruk het.
Tot almal se verbasing het ook genl. Hertzog teen die einde van sy politieke loopbaan daardie rigting ingeslaan. Op 'n vergadering op Zastron op 8 September 1934 het hy onder andere die volgende verklaar: ,,Die partystelsel is uitgedien. Die demokratiese stelsel is verby. Meer as die helfte van die volke het dit reeds afgeskaf en die ander is druk besig om dit te doen. In Suid-Afrika moet dit ook gebeur.”
Sy getrouste vriend en ondersteuner, min. N. C. Havenga, het hier openlik met hom verskil, en het dit ook ruiterlik te kenne gegee.

DIE O.B. EN DIE NUWE ORDE

[edit]

Van die afsonderlike Nasionaal-Sosialistiese organisasies was die Ossewa-Brandwag en die Nuwe Orde die twee sterkste, en die stryd wat hulle uitgelok het, behoort daarom ook tot die belangrikste dele van ons volksgeskiedenis, veral op die politieke, maar ook op sielkundige gebied.
Die O.B. was 'n semi-militêre stigting gegrond op die in Suid-Afrika bekende kommandostelsel. In 'n tyd van oorlog en gisting in die hele wêreld, en in 'n land soos Suid-Afrika met sy oog op die toekoms gerig, kon dit nie anders nie as om groot belangstelling te wek. In alle waarskynlikheid was sy ledetal dan ook op sy hoogste punt groter as dié van enige ander organisasie op sy gebied in ons hele geskiedenis. Die getal van 400,000 was vryelik genoem. Dis gestig geword deur kol. Laas, wat volgens gerug onder omstandighede van die gebruik van geweld nie heeltemal afkerig sou gewees het nie. Die groei was snel en skouspelagtig, en het beide geslagte ingesluit. Volksdissipline was die vooropgestelde doelwit. By die Nasionaal-Sosialistiese ideologie het dit goed ingepas, en selfs was die uiterlike nabootsing van die Hitler-bendes, soos byvoorbeeld hul hakkeklappery, ens., baie opvallend. Doelbewus het hulle die pad probeer bewandel na 'n gesagstaat.
Die O.B. het klaarblyklik groot moontlikhede in hom gehad, maar omdat dit ten kwade sowel as ten goede aangewend kon word, moes dit in veilige bane gelei word, en dit moes geskied veral ten opsigte van daardie ander goed georganiseerde maar direk aan die volk verantwoordelike volksorganisasie, naamlik die politieke party. Aan Afrikanerkant moes die Nasionale Party en die Ossewa-Brandwag ten nouste saamwerk, en wel ieder op sy eie afsonderlike terrein. Oorvleueling hier moes noodwendig fataal wees. Dis om hierdie rede dat aan Nasionale Party-kant daar heel vroeg die noodsaaklikheid gevoel is om die verhouding tussen die twee op 'n kontraktuele basis te plaas, wat dan ook met eenparige stemme geskied het en beliggaam geword is in die sogenaamde Cradock-ooreenkoms. Die bepalings was drieërlei. Ten eerste sou daar tussen die twee organisasies, ieder staande en handelende op sy eie gebied, 'n vriendskaplike verhouding bestaan, en selfs samewerking, sover as dit doenlik en wenslik sou blyk te wees in die algemene Afrikanervolksbelang. Ten tweede sou die O.B. onderneem om die Nasionale Party op partypolitieke gebied as die enigste orgaan van die Afrikanervolk te erken en te eerbiedig, en om homself as 'n eie en selfstandige organisasie daarteenoor te beperk tot die nie-politieke terrein. En ten derde sou die O.B. hom onthou van alle geweldpleging of ander ondermynende bedrywighede.
Die bedanking van dr. Van Rensburg as Administrateur van die Vrystaat ten einde Kommandant-generaal van die O.B. te word, het aan hierdie organisasie 'n nuwe en verhoogde status gegee, en daarvan is ook die ruimste gebruik gemaak. Die begeerte om 'n magsposisie in landsake te beklee, het snel toegeneem, en dit kon vanselfsprekend alleen ten koste van die Nasionale Party geskied, en deur skending van die Cradock- ooreenkoms. Dril-oefenings, optogte en opwindende toesprake was blykbaar op hulself nie genoeg nie. Daar moes 'n meer konkrete en duidelike doelwit wees om blywend en effektief te kan inspireer. Dit was die Nasionaal-Sosialistiese idee van 'n gesagstaat, almal en allesomvattend, en daarom tegelykertyd ook partyloos, met die implikasie daarby van 'n diktatuur. Die O.B.-propaganda was gevolgelik aan sy positiewe kant ten gunste van die ,,partylose” staat, en negatief was dit gerig teen die Herenigde Nasionale Party met sy demokratiese grondslag.
Die inbreuk op die Party se terrein deur die O.B. het al gaande meer openlik en herhaaldelik plaasgevind. Die Kommandant-generaal het selfs by geleentheid van 'n skouspelagtige saamtrek van oor die 7,000 O.B.-aanhangers op Majuba op 8 Februarie 1942 verklaar dat die tyd daar is dat die O.B die taak moet oorneem om die land te regeer. ,,Die belangrikste man in 'n distrik sal wees die O.B.-generaal en die belangrikste man in 'n wyk die O.B.-veldkornet. As iemand om staatsteun kom aanklop, sal alleen op sy verhouding tot die O.B. gelet word. Oor 10 jaar sal Suid-Afrika daar baie anders uitsien as vandag. Daar sal geen demokrasie wees nie. Dan sal u die massa ook nie meer nodig hê nie.”
Tesame met hierdie grootpratery het nou ook nog gekom 'n positiewe daad, waarop ek juis gewag het om effektief te kan toeslaan, 'n daad wat, volgens ek al duideliker besef het, uiteindelik tog moes kom. Die O.B.-leiding het naamlik 'n geskrif uitgevaardig (No. 1/41), wat onteenseglik die grenslyn tussen hom en die Party oorskry het. Dat dit geskied het, kón hy en hét hy ook nie ontken nie. Maar toe hy weier om op my versoek dit terug te trek, was dit 'n openlike uitdaging geword wat die Party nie kon ignoreer nie. In 'n vol saal voor 'n geesdriftige gehoor op 'n Vrydagaand te Stellenbosch het ek dan ook eers die kritieke posisie verduidelik, en toe geëindig met 'n ultimatum aan die O.B. se Groot Raad om voor eenuur die volgende dag die O.B.-organisasie met sy bedrywighede van die Nasionale Party se gebied te verwyder. As dit dan nog nie sal geskied het nie, sou ek op alle Nasionaliste 'n beroep doen om die O.B. onmiddellik te verlaat. Die O.B. was 'n magtige organisasie en my ultimatum was daarom 'n waagstuk. Maar omdat sy lede vrywel almal ook Nasionaliste was, was hy in hierdie krisis uiters kwesbaar. Die gewenste gevolg het dan ook nie uitgebly nie. Van verskillende gesaghebbende kante het daar dadelik versoeke gekom om verlenging van die gestelde tydperk. Vir vier verdere dae is dit dan ook toegestaan. Intussen is daar in O.B.-kringe druk en ernstig geraadpleeg. Aan die end daarvan is die skendende dokument teruggetrek en is die vroeëre normale en gesonde verhoudinge herstel. Dit was egter die begin van die O.B. se agteruitgang, wat geëindig het in sy langsame maar ook sekere verdwyning van die toneel.
Die Nuwe Orde was die O.B. se tweelingbroer. Adv. Pirow was die stigter daarvan, en bekwaam en bedrywig soos hy was, was hy ongetwyfeld 'n krag waarmee daar rekening gehou moes word. Dat die twee organisasies in werklikheid nou verwant aan mekaar was, het dan ook hieruit geblyk dat adv. Pirow pogings aangewend het om die twee met mekaar te verbind. As die O.B. sy Nasionaal-Sosialisme maar net meer openlik wou te kenne gee, so het hy verklaar, sou hy bereid wees om sy eie Nuwe Orde te laat vaar en by die O.B. aan te sluit. Onder omstandighede wou hy egter nie verder gaan as om binnekant die Nasionale Party propaganda daarvoor te maak nie. Intussen was dit vir die Party nie moeilik om aan te toon dat, behalwe sy Nasionaal-Sosialistiese kern, die Nuwe Orde aan die volk niks meer kon aanbied as die Party alreeds gedoen het nie, en dat dit daar bygehaal word alleen maar om die pil te versuiker. Die Party was daarom nie bereid om sy poorte vir die vyand ope te gooi nie. Hetsy binne of buite, maar die slag tussen die twee teenoor mekaar staande ideologieë moes in ieder geval gelewer word.

ANDER ROERINGS OP VOLKSGEBIED

[edit]

hoi Die grond was nou buitengewoon vrugbaar ook vir allerlei ander bewegings op volksgebied. Dit het voortgespruit uit en saamgehang met die tydsomstandighede. Daar was oorlog. Dit het geskyn asof Duitsland met sy Nasionaal-Sosialistiese ideologie die oorlog sou wen, en Suid-Afrika, wat ook daarin betrokke was, moes noodwendig daarmee rekening hou. Met 'n geskiedenis agter die rug soos hy het, was dit volkome natuurlik dat die ingebore drang na vryheid en onafhanklikheid by die groter deel van sy blanke bevolking hom sou laat geld. Die vraag ,,Waarheen Suid-Afrika?” was nou, so nie op iedereen se lippe nie, dan tog op iedereen se hart. Dit was 'n tyd van gisting. Stemme het opgegaan en bewegings het ontstaan waarmee rekening gehou moes word. Gesaghebbende leiding was nodig. Sonder om die orde van belangrikheid in ag te neem, noem ek hier die volgende:
1. 'n Manifes van dr. C. J. H. de Wet, een van die drie Transvaalse leiers en meer bepaald N.P.-leier in Wes-Transvaal, namens ,,die Komitee vir Christelik-republikeinse politiek in Suid-Afrika". Hy bestempel die N.P.-mosie in die Volksraad ten gunste van 'n republiek deur my ingedien as bewys van ,,die politieke bankrotskap van die partypolitiek in Suid-Afrika”. Dit sou dan beoog het ,,'n imperialistiese mengelmoes-volk bestaande uit albei seksies van die blanke bevolking, wat ook maar weer tweetalig sal wees, en politieke regte aan alle seksies sal wil gee, terwyl die enige regte republiek moet wees: a) 'n Christelike Afrikaner-republiek, b) as volk daarvan erken te word slegs die Boere-volk, wat afgestam is van Nederlandse, Franse en Duitse bloed, en c) as amptelike landstaal sal Afrikaans die enige erkende wees. Die orige blankes sal as vreemdelinge ooreenkomstig die volkereg beskou word.” Sy doelwit was 'n uitsluitend Afrikaanssprekende en anti-Engelse republiek.
2. Op Aliwal-Noord word op 12 Maart 1942 'n monstervergadering gehou waar die volgende besluit geneem word:
a) dat Suid-Afrika geregeer moet word deur die Boerenasie, b) dat dit beskou sal word as te bestaan uitsluitend uit die Afrikaanssprekende deel van die bevolking, c) dat Afrikaans die enigste offisiële taal sal wees, en d) dat almal wat oorsee gebore is en nie bereid is om hierdie reëling te aanvaar nie, uit Suid-Afrika gedeporteer sal word.
3. Onder leiding van dr. N. J. van der Merwe en adv. C. R. Swart word 'n monstervergadering van omtrent 7,000 in Bloemfontein gehou. Die doel was blykbaar om op die N.P.-leiers druk uit te oefen in verband met die stigting van die republiek, en vanselfsprekend was genl. Hertzog as hoofleier voorop in die gedagte. Na die vergadering was hy persoonlik nie uitgenodig nie, en kennis daarvan het hy ook nie gekry nie. Wat meer is, die besluite wat daar geneem is, was uit alle oogpunte beskou, die toppunt van onverstandigheid, en kon nie anders as by die Generaal 'n gekwetste gevoel opwek nie. Vir eers word daarop aangedring dat die tyd om die republiek te stig, reeds daar was, en ten tweede dat die volk nou self moet handel, en wel sonder sy leiers. Die implikasie was duidelik, dat genl. Hertzog te langsaam was, en desnoods uitgeskakel kon word. My eie openbare reaksie hierop was dat die vergadering ongelukkig besig was om die weg te open vir die optree van onverantwoordelike leiers en vir onverantwoordelike dade, en daarom afgekeur moes word. 'n Leier wat veral in krisistye maar net daar is om agterna te loop, is geen leier nie. Hy is eer 'n gevaar. Ek glo in werklike leierskap maar ,,leierskap in rade”, dit wil sê in leierskap in lewende kontak met sy volk.
Toe 'n afvaardiging van die vergadering se promotors my vooraf by Seepunt kom spreek het, met die doel om te verduidelik, het ek allereers gevra of hulle genl. Hertzog in die saak geken het. Toe die antwoord ontkennend was, het ek te kenne gegee dat ek my geensins daarmee wil vereenselwig nie, maar dan ook dat hul besig was om die verkeerde weg te volg. Niks het daarna ook meer gedoen om die verhouding tussen die Generaal en sy Vrystaters te vertroebel as hierdie besluite nie.
Teen hierdie tyd was dit alreeds duidelik dat verskillende seksies van die bevolking aan die Nasionaalgesinde kant besig was om hand-uit te ruk. Die sprekendste voorbeeld hiervan was 'n episode wat ek persoonlik moes deurmaak en wat ek hier omstandig wil verhaal.
My huisgesin en ek was op ons terugreis van 'n motortoer-vakansie na die Vrystaat, en het vir die nag tuis gegaan by die Kangogrotte-hotel op Oudtshoorn. Pas het ons daar van 'n lange en vermoeiende reis aangekom, toe 'n geselskap van vier of vyf manne daar aankom met die dringende boodskap dat ons ons goedjies maar weer moet inpak, omdat op 'n bekende plaas in die distrik daar 'n baie belangrike vergadering op ons wag. Teensinnig was ek beslis, maar die aandrang was so sterk dat my uiteindelike inwilliging byna soos 'n ontvoering gelyk het. Daar aangekom, het dit geblyk dat die vergadering bestaan het uit vyf persone, almal soos dit later geblyk het, O.B.-generaals, en sommige komende van plekke so ver as Paarl en Ceres. Die gesindheid teenoor my was tydens die onderhoud eer verwytend as vriendelik. Dit blyk toe spoedig dat hulle iets van my wou afdwing. Kortliks het dit hierop neergekom: genl. Smuts, wat toe Eerste Minister was, het met watter goeie of slegte rede ook al, 'n paar dae tevore onder krygswet beveel dat alle vuurwapens ingelewer moes word. Hulle wou nou dadelik 'n versetbeweging aan die gang sit, en desnoods 'n rebellie begin, en hul eis aan my was nou dat ek deur 'n landswye oproep die voortou daartoe moes neem. Hulle was in hoë mate opgewonde en wou my blykbaar oorbluf. Vir kalme redenering was daar geen plek nie. Vir waarskynlik meer as 'n uur het een vurige toespraak die ander opgevolg, in inhoud en toon altyd meer verwytend. Alles tesame was dit dan ook een van die onaangenaamste ondervindings wat ek moes verduur. My enigste vergoeding - en dit was groot - was dat daar van die voorgenome rebellie, waarvoor die O.B. self geen verantwoordelikheid wou neem nie, niks gekom het nie, en dat 'n nuwe volksramp ons Afrikanerdom gelukkig gespaar gebly het.
Van verdagmaking van my eie persoon was ek egter nie gevrywaar nie. En eienaardig genoeg, het dit van vyandiggesinde kant gekom, en wel by my vriende. Dit het so gekom. In 'n sekere hofsaak het dit aan die lig gekom dat daar 'n geheime organisasie in O.B.-kringe ontstaan het onder die naam van ,,Stormjaers”, 'n kring dus binne 'n kring, met die doel om sabotasie te pleeg. 'n Begin was dan ook alreeds daarmee gemaak. Ek het begryplikerwys dit as my plig geag om daarteen te waarsku, en te meer nog omdat onthouding van geweldpleging 'n eis van my kant was by die aangaan van die Cradock-ooreenkoms. Dadelik egter het politieke teenstanders in die Parlement, en by name Harry Lawrence en Colin Steyn, die geleentheid aangegryp om my in onguns te probeer bring by my eie ondersteuners deur voor te gee dat, ten koste van hulle, ek deur my waarskuwing 'n geheim aan die Regering sou verklap het. Ek het toe besluit om onmiddellik daarop te reageer. By die eerste geleentheid daarvoor het ek in die Volksraad die saak dan ook te berde gebring. Ek het toe verwys na die feit dat die bestaan van die ,,Stormjaers" reeds 'n geruime tyd vóór my waarskuwing 'n saak van algemene bekendheid was. Daar was selfs 'n openbare hofsaak, waarin daardie organisasie by name betrokke was, en waaromtrent die Regering dus nie onkundig kon gewees het nie. Aan die twee ministers, op die regeringsbanke reg vóór my, het ek toe pertinent die uitdaging gerig om in hul sitplekke op te staan en op hul erewoord te verklaar, dat hul self van die bestaan van die ,,Stormjaers" onbewus was vóór my waarskuwing teen hul bedrywighede. My uitdaging het ek met nadruk herhaal. Dit het egter onbeantwoord gebly. Die twee uitgedaagdes het bly sit, maar blykbaar baie ongemaklik. Hul oneerbare spel teen my was ten aanskoue van die hele Raad ten volle geëksponeer. Dr. Van Rensburg het daarna egter die prentjie voltooi. Hy het homself as hoof van die Stormjaers aangestel en langs daardie weg het hy die indruk probeer skep dat die vreesaanjagende naam maar beskou moet word as bluf, en dat in werklikheid daar van daardie organisasie niks behoef gevrees te word nie.