Jump to content

Die Wonderpatroontjie/Belgiese weersgesteldheid

From Wikisource
Inhoud Die Wonderpatroontjie
Uit my dagboek
Belgiese weersgesteldheid
deur Tonnie
Tafelviemies


Uit my dagboek.

Belgiese weersgesteldheid.

29 Mei. — Ek het eenkeer melding gemaak, dat die son een dag hier amper twee uur lank geskyn het. Nou moet die leser darem nie daaruit aflei, dat dit ál is wat die son nog ooit hier geskyn het nie. Nee, ek moet eerlik wees. Die son het in die 52 dae wat ons hier is altesaam 7 uur 42 minute en 11 sekonde geskyn. Dit sou twaalf sekonde gewees het, maar toe moet daar nog weer een dag 'n japsnoet van 'n vliegskipryer oor die dorp vlie en die son 'n hele sekond lank met sy ellendige vaartuig verduister. Wel, dit is dan 'n gemiddelde sonskyn van 8 minute en 55 sekonde per dag.

So sien die leser, dat daar nie eintlik veel nood is, dat ons hier te swart sal brand nie ; veral as 'n mens bedink, dat Meimaand al amper uit is en dis glo die sonnigste maand : dit kom ooreen met ons Oktober, waarvan Leipoldt sing :

Dit is die maand Oktober,
Die mooiste, mooiste maand ;
Dan is die dag so helder,
So groen in elke aand,
So blou en sonder wolke
Die hemel heerlik bo.

Hulle besing ook nogal kastig Meimaand hier as die mooiste maand. Die volgende spreuk lees 'n mens oral in huise en in die winkelvensters.

« Dat als een schone dag in Mei
Een ieder uwer dagen zij! »

Toe ek dit sien, stamp ek aan Danie en ek sê : « Boetie, moenie laat ek lag nie, my lip sal bars ! »

Van Carolina het iemand eenmaal gesê, dat die inwoners daar nie vir verandering van klimaat hoef weg te gaan nie, hulle kry die verandering op die plek self. Danie het my dit ook verseker dat, toe hy sy voordrag-aand daar gehou het, hy die aand na die konsert sy boordjie moes uitdroë, so warm was dit in die saal en die volgende dag ry hy in die kapok daar weg.

Belgiese weersgesteldheid: I) om 8 uur; II) om 20 oor 8; III) om 27 oor 8.

Maar dit is nog niks. Daar was 'n hele nag tussen so'n verandering. Hier verander die weer baie vinniger. Ek sal nou maar 'n voorbeeld noem. Hier loop die more om 8 uur 'n meisie wat in ons Pension loseer die dorp in, gekleed in 'n mantelpak (ek glo dis die beskaafde naam vir « coat and skirt ») met 'n warm woljas en 'n swaar jakkalsvel om die nek.

Ons gaan saam die deur uit, nadat ek self in die eetkamer gesien het dat sy die jas en die jakkalsvel oor 'n mantelpak omhang. 20 minute oor 8 kom ek terug, toe kom dieselfde meisie alweer by die deur uit, die skoot gekleed in een ou dun wit rokkie, 'n yl kussingslopie (gehekelde jumper), 'n sambreel, 'n waaier en 'n paar skoene en kouse. Dit was 20 oor 8. 27 minute oor 8 kom die stomme meisiekind uit asem aangestorm om haar reënjas te kry.

In Suid-Afrika kan 'n mens in die meeste streke die morevroeg taamlik seker weet as dit die dag nie gaan reent nie. Daar is selfs streke, waar 'n mens glad nie eens 'n profeet hoef te wees nie, om 'n jaar vooruit te voorspel, dat dit gedurende die eersvolgende 365 dae nie sal reent nie. In Kimberley byvoorbeeld, weet hulle dit so seker, dat 'n mens in die hele Kimberley (en dis tog 'n groot stad) nie 'n paar modderskoene kan te koop kry nie. Ek wonder hoeveel persent van die inwoners van Suid-Afrika het ooit al 'n reënjas besit ?

Maar hier kan jy vyf minute van tevore nie verseker sê of dit oor vyf minute nog mooi weer sal wees nie. Jy durf dit hier nie waag om meer as honderd tree van jou huis af te loop sonder jou reënjas en sambreel nie ; al is daar ook nie 'n wolkie so groot soos 'n man se hand nie.

Dit gaan met die wispelturige weersgesteldheid hier soos met die kaartspelletjie, wat hulle noem « skrik » (wel te verstaan, ekself het dit nog nooit gespeel nie, maar ek het dit baie sien speel). Al die spelers sit om 'n tafel, dan trek die een altyd 'n kaart van sy buurman en die een wat eerste vier konings of vier jekke of vier tienne het, sê « skrik » en gooi sy kaarte op die tafel neer, en die een wat laaste sy kaarte neergooi, is « blek Piet ». Maar party keer is die gelukkige speler skelm, hy sê nie « skrik » nie, maar hy knik in die stilte vir sekere van sy vriende, dat hy vier enerse kaarte het, dan lê hulle maar al solank hulle kaarte neer. Die kuns is dan om maar altyd te sit en rondkyk wanneer daar haas « geskrik » word.

Nou, so gaan dit hier met die reën. As 'n mens hier nie die slag ken nie, dan sal jy helder mooi weer onder die sambreel loop, omdat die reën so skielik begin en so gou weer ophou. Nou hou ek maar altyd vir die versigtigheid die ander mense dop, om te sien wanneer hulle hulle sambreels toeknip, dan weet ek nou het die reën opgehou. Maar die arme Danie is mos altyd diep in gedagte, soos die boer wat sy perd opsaal en veld-toe ry om na dieselfde perd te gaan soek.

Belgiese weersgesteldheid: I) op die eerste slag van 12 uur; II) op die twaalfde slag van 12 uur.

So staan ons op 'n keer op die brug by die Schelde. Dit was op die kop 12 uur en die toringklok begin te slaan. Toe die klok die eerste slag van 12 gee, gaan dit hard aan 't reën. Almal steek natuurlik die sambreels op. Nou is dit snaaks, maar dit is tog so, dat die meeste mense na die klok kyk, wanneer hy slaan. Wat hulle aan die klank kan sien, het ek nog nooit kon uitvind nie.

So staan Danie dan ook die dag weer na die klok en kyk toe hy begin te slaan. Soos ek sê, toe die klok die eerste slag van 12 gee, gaan dit hard aan 't reën, maar teen die sewende slag (amper 'n half minuut later) was die reën oor en dit was helder sonskyn. Danie het natuurlik nie rondgekyk wat die ander mense doen nie, met die gevolg dat hy waarlik onder die sambreel staan totdat die klok sy twaalfde slag gee. Het die mense nie vir hom gelag nie !

Maar dis nou darem nog nie so'n groot ongemak nie ; want Langenhoven het gesê die mooiweer sal jou nie beskadig, omdat jy jou reënjas en sambreel saamgedra het nie (en ek dink hy het om België gedink, toe hy dit geskryf het). Maar wat hier so ongerieflik is, is dat jy die more in die hartjie van die winter die huis verlaat en voor jy hoe ver is, is dit soos Januariemaand drie-uur die middag in Soutpansberg se distrik. 'n Mens kan tog nie bra 'n orige pak somerklere saamdra, om daar aan te trek, waar dit kom somer word nie !

Nee wat, ek sê daar is maar een land in die hele wêreld. Al die ander is nagemaak.