Jump to content

Die Wonderpatroontjie/Die verwaarloosde lord

From Wikisource
Sy nuwe betrekking Die Wonderpatroontjie
Die verwaarloosde lord.
deur Tonnie
Onder egte lords vervalle


Die verwaarloosde lord.

Op die bepaalde tyd gaan Danie dan by 'n kafee in, met sy ou flenterpak en sy draaiorrel en hy bestel 'n glas bier en staan met 'n taamlike Ierse aksent vir die meisie en vertel, dat dit 'n lekker dag is, ekspres, dat die meisie hom kan uitvra. Maar hy hou hom maar kastig dig en sê net nou en dan in Engels:

« Glo my. juffrou, ek het beter dae geken. Pat O'Smallboy het nie altyd gelyk soos hy vandag lyk nie », en dan kyk hy weemoedig na sy ou flenterbroek. « Ja, glo vir my, nie so baie weke gelede nie, was ek nie somar net Pat O'Smallboy nie, maar... Nee wag, juffrou, ek sal nie verder vertel nie. Dit help tog nie en jy sal my nie verstaan nie. »

« Nee, toe vertel gerus », moedig die meisie hom aan. « Dit sal my baie interesseer, want ekself kan aan jou sien, dat daar iets verkeerd moet wees. Ek glo goed, dat jy beter dae geken het en ek kan ook sien, dat dit nie van slegtigheid is, wat jy in jou teenwoordige toestand gekom het nie. Vertel... »

Daarop kom ek die deur ingestap. Die stomme meisie wis nie wat haar oorkom, dat so'n deftige meneer in haar kafee ingestap kom nie. Dit is daarom, dat sy somar die gesprek afbreek.

Ons het afgespreek, dat Danie hom dadelik half na 'n hoekie se kant toe sou verwyder, sodra as ek binnekom. Dit het hy dan ook meesterlik gedoen, sodat sy rug na my toe gedraai was en ek hom dan kamma nie kon herken nie. Ek begin toe die volgende gesprek met die meisie.

« Juffrou, het jy altemit hier voor jou deur ergens 'n man gesien met 'n draaiorrel! Ek voel verskriklik verontwaardig. Volgens hulle vir my die man beskryf het, dan is dit nie 'n bedelaar nie, maar 'n man wat ver bokant my staan en bokant die grootste meerderheid van die rykste mense van Parys. Ek wil... »

Maar die meisie kon haar toe nie meer bedwing nie en sy wys na Danie.

« Hallo, Lord O'Smallboy, my maskas ! » Met hierdie uitroepe bestorm ek hom, toe ek my kop dié kant-toe draai en hom toe kastig vir die eerste maal raaksien. En ek skud tog vir jou sy hand so innig en hartlik, dat 'n mens sou sê dit is maar ons twee self en gladnie twee lords nie.

Ewe onnosel kyk hy my aan en vra nog meer onnosel: « En wie is meneer dan ? » (So'n huigelaar !)

Ontmoeting van twee nagemaakte lords.

Daarop beduie ek toe vir hom hoe ek gehoor het van die man, wat met 'n draaiorrel sy kos moet verdien en dat die man se naam « Pat O'Smallboy » is en hoe ek dadelik gedink het, dat dit moet hy wees, omdat ek net 'n paar dae van tevore gelees het hoe hy geplunder geword is. En toe ek nou vra of hy my dan nie meer ken nie, kan dit hom dan kastig gladnie byval nie.

« Onthou jy dan nie, Pat, ekskuus, Lord O'Smallboy, ons twee se lekker dae in die uniwersiteit van Oxford nie? Nee, jy sal my ook nie meer ken nie. Daardie dae was ek Godfrey Tonteldoos, maar nou is ek Lord O'Tonnie, tot u diens (met 'n buiging). Jy weet, Arthur, wat altyd so baie van grondboontjies gehou het, is mos nou goewerneur. A ja, die oudjie trek net 'n vet salaris. Maar kom sit hier en vertel vir my jou hele geskiedenis. Juffrou, twee glase studenteblits asseblief. »

Ons gaan toe in 'n taamlike afgeleë hoekie sit en maak kastig of ons nou oor Lord O'Smallboy se teenspoed gesels, maar moenie glo nie, ons sit en planne maak hoe ons nou die nuus gou genoeg deur die stad sal laat versprei.

Ons het ook nie hoe lank gesit nie, of daar kom 'n paar suiplappe in. Hulle bestel bier en ons sien maar net hoe die meisie na ons kant toe staan en wys en vir hulle vertel, dat ons twee lords is. Ag, maar jy moes hulle oë sien rek.

Om die saak nog bietjie verder te dryf, gaan ek na die meisie toe, gee my adreskaartjie, betaal vir 'n bottel sjampanjie en vra, dat sy dit asseblief na my hotel toe moet stuur.

Maar jy sou sweer dis 'n edelgesteente, soos hulle die valse ou naamkaartjie van « Lord O'Tonnie, Hôtel de Joan d'Arc, Paris ô, staan en bekyk. Kort daarna lui ek op en bestel 'n taksie, waarin ek vir Danie met draaiorrel en al stop en ons sit af na my hotel toe.

Net soos ons verwag het, het die koerantrapporteurs die middag vir my half vertrap, om besonderhede oor die verwaarloosde lord te hoor.