Jump to content

Die Wonderpatroontjie/Oor modes

From Wikisource
Tafelviemies Die Wonderpatroontjie
Uit my dagboek
Oor modes
deur Tonnie
Heimwee


Oor modes.

[edit]

1 Mei. — Ons het nou die dag hier 'n Belg ontmoet, wat nie rook nie !

Ons kry elke dag meer rede om respek te hê vir die Vlaminge. Hulle is in so baie opsigte so heeltemal anders as ander nasies van Europa. Hulle is nie halfpad so vol viemies soos wat die mense in ander lande is nie. Reken dan bietjie, hier gaan somar heeltemal deftige mense in 'n gewone snyerspak na die teater toe ! Soiets gebeur nie in Engeland of Frankryk nie. O nee, daar moet dit 'n swaelstert of 'n agterlaaier of 'n « smoker » wees !

Ons was nou die aand vir 'n toneelopvoering na Brussel, die Johannesburg van België. Dan kry 'n mens enigsins 'n denkbeeld van die eenvoud van die Vlaamse deel van België, in vergelyking met die Fransgesinde deel. Ag, daar is dit net vertoon ! Ja, as 'n mens sien hou die modeduiwel die mense tou-in-die-bek ry, nieteenstaande die ellende, wat hulle kortgelede nog deurgemaak het, dan kan jy nie net hoofstukke nie, maar boekevol skryf oor die marteling, wat die mensdom hom aandoen, deur die onsinnige aandag, wat bestee word aan die uiterlike versiering.

En as die modesug nou nog maar altyd spruit uit skoonheidsgevoel, dan kon 'n mens dit nog verlief neem. Maar dit is helaas nie altyd die geval nie. Op die skip het ons dit so mooi waargeneem. In die more en die middag kom hulle aan tafel sit in 'n tooisel, wat 'n ordentlike kristenmens nie met 'n tang sal wil aanraak nie (ek praat hier van die kleredrag van die modesugtige element, die gewone mense was op die skip altyd behoorlik gekleed) : hulle het 'n ou paar slippers aan wat ek, as dit myne was, smorens sorgvuldig in my koffer sou toesluit, dat die kamerbediende nie moet sien, dat ek sulke gehawende vodde besit nie ; die hemp is oopgeknoop tot onderkant die borsbeen en netjies onder die baadjie ingedruk, om soveel moontlik van die Esou-bors bloot te laat. Dan moet ek nog daarby sê, dat hy dan al die hele more op die dek rondgeloop het in sy slaapklere en daardie ou paar slippers en 'n afgeleefde ou jas ( « dressing gown » ). Maar vanaand moet jy vir hom sien ! Dan is hy so fyngevat, dat jy hom deur 'n ring kan pluk : 'n swart pak, wat in die elektriese lig glinster soos 'n ertswawel ; « fensie »-sokkies ; dansskoentjies met luidrugtige strikke ; 'n hardgekookte of blaarpens-hemp — ek sê vir jou 'n pou lyk 'n mooi een !

Nee, klere het vandag in die « society »-wêreld glad heeltemal 'n ander betekenis, as waarvoor dit oorspronklik ingestel was. Toe onse Liewe Heer vanmelewe vir Adam en Ewa klere gemaak het, toe was dit om hulle teen die koue en die hitte te beskut en om hulle naaktheid te bedek. Vandag word klere meesal net gedra vir die naaktheid, met dié verskil, dat dit in baie gevalle gebruik word om die naaktheid te vertoon instede van te bedek.

Ek praat hier nou uitdruklik van manskleredrag. Van die vrouens weet ek niks af nie en vir al wat ek weet, mag dit vir 'n vrou nodig wees om vier- of vyfmaal op 'n dag haar klere te verwissel : hulle is anders saamgestel as ons en dit mag wees, dat hulle asemhaling of hulle bloedsomloop dit vorder. Maar ek kan van myself praat en dan sê ek, dat die heeldag se uit- en aantrekkery vir mans nie nodig is nie. Ek het al baie keer die more 'n pak klere aangetrek en ek hou dit die hele dag aan en eet drie maaltye, sonderdat my spysvertering daaronder ly.

Weer sê ek, as dié, wat soveel aandag aan hulle uiterlike tooisel bestee, dit nou maar doen uit skoonheidsgevoel, maar o wee ! Laat ons liewer nie verneem hoe die hart en die gemoed van baie van die pronkende poue daaruit sien nie. Hulle is sulke volslae slawe van die praalsug, dat hulle om niks anders kan dink nie. Vir kuns en ander mooi dinge van die lewe voel hulle niks. Om hulle ewenaaste of die algemene belang bekommer hulle hul gladnie. Hulle enigste bekommernis - en daarvan het hulle meer as te veel - is hoe om die geld te verdien of te leen om nog meer en mooier klere te kan koop. Dis alles net hulle liggaam en hulle maag. Hulle kop gebruik hulle net om hulle hoed aan op te hang.

En so word die klere vir die mens 'n marteling, instede van 'n gerief. Net soos baie mense die manier het om vakansie te hou. Hulle is doodgewerk in 'n kantoor en gaan dan op 'n sesmaande vakansie, dat hulle gees kan rus. Maar wat doen hulle ? Gaan hulle ver in die veld 'n tent opslaan, om uit die gewoel te wees en die sonskyn en lug en die vrye natuur te geniet ? Of hul aan 'n boer verhuur, om vir hom te ploeë, sodat hulle liggaam kan oefening kry en hulle harsings rus ? Nee, hulle gaan na 'n stad, waar hulle hul stokflou rus, deur elke aand tot oor middernag uitvoerings en partytjies by te woon.

Maar waar het ek my nou weer in die rede geval ? O ja, ek wou vertel van my eerste kennismaking met die modes, of laat ek sê die etiket. En daarmee wil ek dan probeer duidelik maak hoe onbetroubaar die wette van die etiket is ; sodat elkeen eintlik met homself en met al die ander moet wedywer.

Dit was vanmelewe, toe ek ook nog meer klere as harsings gehad het - die dae, toe ek nog borshemp gedra en brilliantine aan my hare gesmeer het. Toe sien ek ook eendag in die venster van 'n boekwinkel die boekie : « Manners for Men ». A nee, en ek koop hom ! Nou moet ek sê, daar is 'n paar nuttige wenke in die boekie, byvoorbeeld, as jy met 'n meisie saamloop en julle gaan 'n trap op, dan moet jy voor loop en as julle die trap afgaan, dan moet sy voor loop. Dié wenk het ek niks op teen gehad nie.

Maar toe ek daar kom waar hulle sê, as jy met 'n meisie in die straat loop, dan moet jy altyd aan die straat se kant loop, sodat die motorkarre eerste vir jou kan onderstebo ry. Die ding kon ek nie verstaan nie ; want in my dorp was dit die vaste gebruik, dat 'n jongkêrel aan die linkerkant van 'n nooi loop en pasop, dat jy dié reël oortree, dan word jy dae lank gaar gespot, omdat jy aan die « getroude kant » geloop het. Toe vra ek myself af, hoe nou gemaak, as julle toevallig aan die kant van die straat loop, waar die straatkant die getroude kant is ? Later het ek uitgevind, dat die reël van getroude en ongetroude kant in ons dorpie ingevoer was, omdat daar nie motorkarre was nie en die strate buitendien nog wyd genoeg was, om ondersteboryery onmoontlik te maak.

Ek sê ek het toe by daardie punt bietjie getwyfel. Maar waar ek gesien het, dat die voorskrifte van daardie boekie heeltemal onuitvoerbaar is, was toe ek by die klere kom. Voor brekfis moet jy 'n sekere soort baadjie aanhê, aan die brekfistafel weer 'n ander. Gaan jy daarna die dorp in, dan moet dit 'n mantel wees. En so gaan die dag deur met elke maal verwisseling van die swaelstert, voorlaaier en agterlaaier, al na gelang van die maaltyd, die uur van die dag, of die rang of stand van die mense, wat jy besoek. En natuurlik, vir elke soort partytjie of uitvoering weer 'n ander soort. En dan verbeel ek my amper, dat hulle sê jy mag ook nie tweemaal met dieselfde pak klere by mense kom nie. Toe het ek by myself gesê, nee wat, die ou manier is darem maar die beste.

Die stompieoptellers dra hier drie sakdoeke : een in die broeksak, 'n twede in die onderste buitesak van die baadjie en 'n gekleurde sakdoekie, wat uit die boonste buitesak van die baadjie hang.

De baadjies is hier almal in die middeltjie ingekeep, soos 'n vrou se baadjie ( « kout » ), waardeur die mans lyk soos 'n swerm perdebye en wipstertmiere.

Die mans, wat bietjie lyf het, lyk kompleet soos 'n rugaringtolletjie, of soos die sandglasie waar 'n mens op kyk hoe lank eiers moet kook.

In die ou Griekse godeleer lees 'n mens van sulke dubbelslagtige wesens, waarvan die bolyf 'n mens is en die onderlyf 'n afgod. Nou, so gaan dit omtrent met die mans hier. Bekyk jy hom by sy ingekeepte middeltjie, dan is hy 'n perdeby ; beskou jy hom in die dwarste, dan sal jy 'n eed wil neem, dat dit 'n wipstertmier is, of 'n ruspe, wat teen 'n pampoenblaar opklim ; en besien jy hom weer net so 'n bietjie bokant die sla-kry-plek, daar waar die baadjie ophou (want die baadjie is hier so kort, hulle raak maar net so proe-proe tot by die heupe), dan sal jy jou kop op 'n blok neerlê, as dit nie 'n kraanvoël is waar die stertvere van uitgepluk is nie ; of 'n brommer (want dié het mos ook sulke kort vlerke, sodat hy nie ver kan vlie nie ; maar somar dadelik weer neerslaan op die stuk vleis waar hy hom vandaan verwilder).

Slagoffers van die kuns.

Nee, ek het nog altyd die vrouens verdedig, waar hulle te na gekom word oor hulle sogenaamde modesugtigheid, en nou is ek baie bly, dat ek nog altyd vir hulle party getrek het ; want daardie ingekeepte-baadjie-mode van die mans is honderdmaal leliker en verspotter as al die modes wat die hele wêreld se vrouens op hulle gewete mag hê. Kyk bietjie na ons portrette op bladsy 62 en sien dan hoe mismaak die stomme Danie lyk !

Die kuns word net so gemartel en misbruik. Hier in ons pensioen is 'n hele paar sale, wat vir aandpartytjies verhuur word en volgens die indruk, wat ek van ver af kry van wat hulle vir sing bedoel, dan is ek meer as een more verbaas, dat die saal nie vol dooies lê nie.