Jump to content

Kootjie Totjie

From Wikisource
Kootjie Totjie

deur C.J. Langenhoven


1.

Kootjie Totjie se ma, die ou varksog van die mensoom, oom Karel, het onder 'n afdak gewoon waar dit lekker warm was in die nag, en bedags was daar koelte. Sy had altyd vars droë strooi om op te lê en soveel kos as wat sy wou eet: pampoene en patattas, en perskeskille, en een maal op 'n dag gars of semels. Want haar baas, die mens-oom, was goed vir haar. As hy by die hok kom dan sê sy ug, ug; tog te bly om hom te sien. En Kootjie was so 'n fraaie varkseuntjie, lief vir haar en sy vir hom. Spierwit, nes sy ma.

Maar daar het darem iets makeer. Die afdak was rondom oop sodat sy kon uit en in loop soveel as sy wou. Maar ver loop kon sy nie, want haar huisie was in 'n klipmuurkraal. Daar was 'n hek, maar díe het altyd vas toegemaak gestaan, en die sporte was te nou vir haar om deur te kruip. Al had sy goeie kos en goeie slaapplek, sy wou maar nie so opgesluit bly nie; dit was nes ‘n tronk.

Kootjie kon maklik deur die hek kruip, hy was nog so klein. En hy hét ook deurgekruip, en dan loop hy op die werf rond en tot in die wingerd, en hy steel hom so trommeldik aan die druiwe. En dan loop hy weer in die mense se huis in en die mens-tante jaag hom uit, en hy sê maar ug, ug, soos hy van sy ma geleer praat het; of die tante gooi hom met ‘n skoen en dan sê hy hoin! maar netnou is hy maar weer in die huis. As hy weer by sy ma kom, vertel hy haar waar hy oral was, en dan onthou sy al die ou plekkies waar sy self was toe sy nog ‘n klein totjie was en oral kon rondloop net soos hy nou. Snags slaap hy warm teen haar aan op die strooi onder die afdak.

Een aand was hy ver van die werf af by die rivier; dit was vir hom so mooi gewees waar hy daar gespeel het, dat hy sy tyd verdraai het. Toe hy weer sien, was dit skemerdonker. Hy spring op om huis toe te hardloop - en hier bars Gert Wolf tussen die pypstele deur! En hy vang vir Kootjie, en hy dra hom weg oor die berg en in die donker houtbos in.

Gert Wolf se plan was om vir Kootjie Totjie groot te maak vir 'n slagvark. Waarom kon die mense dan varke aanhou, en hy nie? Hy had lankal gesoek na 'n varkie, maar hulle was almal by die mense se huise, en die honde was te kwaai, en die mense het 'n manier gehad om jou te skiet as hulle jou maar net sien.

Kooitjie het geskree toe Gert Wolf hom vang dat die bosse so antwoord gee, en sy ma hoor hom en sy skree nog harder uit die kraal uit, en die mens-oom kom met sy geweer uitgehardloop maar toe trek Gert Wolf al met Kootjie die berg oor.

En die ma het getreur daar onder die afdak, en Kootjie het getreur daar in die bos, maar dit help niks.

Nou het daar in dieselfde bos, op Gert Wolf se werf, in een van die bome, 'n duifmoeder gewoon, en sy had twee duifkindertjies in haar nes. Kootjie het lief geword vir haar want hy was nou so allenig in die wêreld. Hy het vir haar wurmpies uitgevroetel; sy wou dit eers nie hê nie, dis mos nie haar soort kos nie; maar hy het haar geleer om dit te eet en vir haar kindertjies te gee; en dan hoor hy hulle daar in die nes raas so bly is hulle. Wanneer sou hulle tog eendag groot genoeg wees om uit te kom dat hy kon matertjies hê om mee te speel? dog hy. Hy kon hulle van die grond af sien, want die nes was net 'n paar stokkies opmekaar in 'n mik van die boom. Maar toe kom daar 'n groot gevaar vir hulle. Dieselfde nare ou Jakob Slang waar ons vantevore van gehoor het, hy was mos nou dood. Maar hy had 'n broer, net so 'n nare ou ding soos hy, en die se naam was Bart. Bart kom eendag deur die bos tussen die gras aangeseil, en hy sien die duifnes daar in die boom, en hy hoor die kleintjies binne roep hulle mammie moet tog weer vir hulle wurmpies bring. Sy was 'n hele ent daarvandaan op 'n vleiplek; Kootjie Totjie had vir haar 'n dik vet wurm uitgegrawe. Sy sê "dankie, Kotie," en sy vlieg weg met die wurm na haar nes toe. Toe sy daar kom, sien sy Bart Slang by die nes met sy lelike kop en sy vurktongetjie. Maar wat kon die arme duifmoeder doen? Sy het heen en weer gefladder en geskree en geskree - daar word haar kindertjies netnou voor haar opgeëet.

Kootjie hoor daar uit die vlei uit hoe sy skree en hy hardloop om te kom kyk. En so gou as nou staan hy op sy agterpootjies teen die boomstam waar hy net die onderlyf van Bart Slang kon bykom, en hy byt hom met een hap so middeldeur. Bart se stert val op die grond, en sy voorlyf los daar bo en val ook op die grond, en die twee stukke rol en kronkel en spartel dat dit nie maklik is nie. Maar dit was klaar met Bart Slang.

En nou sal ons verder hoor wat die duifmoeder vir Kootjie Totjie gedoen het omdat sy so dankbaar was dat hy haar kindertjies gered het.

2.

“Kotie, my hart," se die duifmoeder die aand vir Kootjie Totjie, “ek het jou net so lief soos my eie twee kindertjies. En jy het hulle van die slang gered en die slang doodgebyt sodat hy nooit weer vir hulle 'n gevaar sal wees nie. Wat kan ek tog vir jou doen? Wat wil jy graag he?"

“Tannie duifie," sê hy, “ek hou baie baie van Tannie, maar ek verlang na my mammie. En ek moet hier wegkom; ek het gister vir Gert Wolf aan sy vrou hoor sê hy wag net tot ek 'n bietjie groter is, en dan sal hy my slag."

“Foeitog, Kotie, ek wens tog dat ek iets daaraan kon doen. Maar wat kan ek doen, ek arme swak duifiemoeder? Ek kan nie eens vir my eie kindertjies keer as daar gevaar kom nie."

En so het hulle maar gaan slaap, hy op die grond teen die boomstam, sy by haar twee kuikentjies in die stokkienes in die mik van die boom. Sy het lank wakker gelê en haar ou hartjie was seer oor Kootjie, al was sy so bly dat sy nog haar twee kindertjies onder haar vlerkies had terwyl sy hulle so byna-byna die dag verloor het. Naderhand raak sy aan die slaap, en sy droom 'n snaakse droom. Sy word wakker, en sy raak weer aan die slaap, en sy droom weer dieselfde droom. En so tot drie maal toe.

En die droom wat sy gedroom het, was dat daar ver oor die blou berge by 'n riviertjie, toegegroei van die blomme 'n feëdogtertjie woon. En dit was nie van die feetjies wat na die mense omkyk en vir hulle help as hulle in die nood is nie, maar 'n fee wat lief is vir diertjies en altyd vir hulle iets doen as sy kan.

En toe sy ná die derde droom wakker word, sê sy by haarself: “Die droom is nie verniet nie; ek gaan môre kyk."

Die anderdag-oggend het sy vir Kootjie niks gesê van haar droom of van haar plan nie, maar hom gevra om tog naby die boom te bly en te kyk dat daar niks by haar kindertjies kom nie. En toe het sy hulle gegroet, en vir hom ook; en oor 'n oomblik was sy hoog in die bloue lug verdwyn.

Toe sy die berg anderkant af was, kom sy op net so 'n riviertjie soos sy van gedroom het, net so toegegroei van die blomme. Sy gaan op 'n takkie sit, naby 'n groot sonneblom. En daar, op die blom, sit 'n dingetjie wat net soos 'n mensdogtertjie lyk, maar skaars groter as 'n kolby, en met goudgeel haartjies en goudgeel kleertjies, nes die sonneblom.

“En toe duifie," sê die feedogtertjie, “wat kan ek vir jou doen?"

Toe vertel sy haar die hele ding, van Kootjie Totjie, en hoe 'n liewe soet seuntjie hy is, en hoe hy haar kindertjies gered het, en hoe hy deur die wolf van sy mammie af weggeneem is, en dat die wolf net wag tot hy groter is om hom te slag.

“Nou ja," sê die feedogtertjie, en sy lag dat dit gaan nes 'n orreltjie wat speel; “nou ja, duifie, ek het raad vir die totjieseuntjie. Sien duifie daardie tros swart druiwe daar aan die rank net bokant jou? Pluk daar drie korrels, en neem dit saam en gee dit vanaand vir Kootjie Totjie om te eet wanneer hy gaan slaap."

En die duifmoeder het baie baie dankie gesê, en sy is daar weg met die drie korrels, een in die bek, en in elke poot een. Kootjie Totjie was alte bly om haar weer te sien, net so bly soos haar twee kindertjies.

“Kom kyk,” se hy, “daar lê ses wurms wat ek vir Tannie uitgegrawe het solank as jy weg was."

En sy het die drie korrels in 'n ander mik weggesteek en vir Kotie daar niks van gesê nie.

Die aand slapenstyd, net soos sy die korrels wou gaan haal daar in die mik om af te vlie daarmee en dit vir Kotie te gee - hier kom Gert Wolf en sy vrou aan, en hulle staan vir Kootjie so en kyk. “Ja, Vrou,” sê Gert Wolf, “ons sal hom maar môre vroeg slag. Hy neem te lank om groot te word." En toe is hulle huis toe. Maar Kootjie het nie gehoor wat hulle gesê het nie ; hy was al aan die slaap.

Die duifmoeder maak hom wakker en sy gee hom die drie korrels. So half deur die slaap eet hy hulle. “Ug, ug,” se hy, „maar dis lekker." En hy slaap maar weer.

Toe sy die anderdag-môre wakker word, met die eerste rooidag, daar kom Gert Wolf en sy vrou aan. Gert dra 'n groot mes dwars in sy bek.

En toe hulle naby kom - hier staan 'n yslike groot wit olifant onder die boom op en hy loop vir Gert Wolf en sy vrou by, en hy gee elkeen net een trap, toe was daar niks as twee rooi nat kolle op die grond.

“Toe maar Tannie,” skree hy, “ug, ug; moenie bang word nie; dis ekke, Kootjie Totjie. Dis ek wat 'n varkie gaan slaap het en 'n olifant wakker geword het."

“My liewe," sê sy; “dan is dit van die drie druiwe korrels!"

Die namiddag word Kootjie se ma wakker en sy kom onder die afdak uit en hier kom 'n slurp oor die klipmuur en hy tel haar op so groot as sy is, en oor die muur, en hy sit haar buite neer.

“Ug,” sê hy, “ug, ug, Mammie; jy word lig op jou oudag. Maar nou hoef jy nie langer in die tronk te bly nie. Kom, ons gaan by tannie Duif bly daar in die houtbos.”

Die mens-oom weet tot vandag toe nog nie wat van sy varksog geword het nie. Maar in die houtbos waar Gert Wolf daar gewoon het, woon daar nou 'n reusagtige wit olifant. En 'n ou otjie loop met hom saam en sy sê ug, ug as hy vir haar vrugte bo van die bome af pluk en aangee. En op sy rug ry twee jong duiwe, en die oue sê uit die boom uit: koekroe-koe, koe­kroekoe.