Jump to content

Loeloeraai/Takhaar-opleiding

From Wikisource
Afskeidstoesprake Loeloeraai
Takhaar-opleiding
deur C. J. Langenhoven
Die aarde van uit die hemel


Takhaar-opleiding

[edit]

Toe Loeloeraai op die knoppie druk, voel ons meteens dat ons opgelig word; en omdat die snelheid aanvanklik gering was en al meer en meer toeneem, het die gevoel van drukking van onder af gebly. Maar ná ’n paar minute, toe die maksimum snelheid behaal was en ons vaart dus eengalig aanhou, was dit dadelik of ons rus onder ons wegraak. Toe ons sien, hang ons almal los in ons spantoue.

,,O magtig, Kerneels,” sê ou Stoffel, ,,ons val! Die ding raak onder ons uit. Hy begin te makeer. Ons sweef almal los nes erte in ’n geskudde blaas.”

,,Nee, Stoffel,” sê Loeloeraai, ,,ons styg nou op ons vinnigste. Maar die swaartekrag is afgesny: al wat binne die sfeer is, is absoluut sonder gewig – anders kon ons nie van die aarde weggekom het nie. Strek uit jou arm, Stoffel. So. Nou voel jy – jy hoef hom nie reguit te hou nie, hy bly self so. Daarom het ek ons in die spantoue laat gespe. Hierbinne is ons net soos ontliggaamde geeste. Wil julle sien? Kerneels, maak vir Engela tog los en gee haar ’n effentjiese stootjie.”

Toe ons weer sien sweef Engela in die lug, in die middel van die sfeer.

,,Nou kan jy jou hou in watter postuur jy wil, Engela – sit of lê of staan of hang, dis alles eners. En voel jy ? Daar is geen stuk onder of bo nie.”

,,Ai, maar dis heerlik!” sê Engela. En sy draai haar na alle koerse toe. ,,So ’n sagte rusplek is daar op die aarde nergens te kry nie. Ek is soos ’n swewende seepblasie, gewieg in die lug.”

Loeloeraai raadpleeg ’n instrument aan die muur. ,,Ons sfeer is nie meer in die lug nie. Gelukkig het ons lug hierbinne in voorraad. Jy voel nie dat dit bedompig is nie, Kerneels ?”

,,O nee. Die lug is soos die varse geur as die donderweer oorkom; soos in die vroeë oggend aan die seekus.”

,,Osone,” sê Loeloeraai. ,,Ons sal dit so hou. Maar in alle geval, ons het die lug daarbuite verlaat – ons is al ’n vierhonderd myl bokant die oppervlakte van die aarde – as ons nog van ,bokant’ kan praat. Ek kan nou die luike verwissel vir ruite.”

,,Gaan jy hulle één vir één oopdraai ?” vra ou Stoffel.

,,O nee, dan is ons dadelik dood. Die lug wat hier in is sou in ’n oomblik uitstroom. Ek skroef eers die glase in hulle plek, en dan laat ek die luikskywe binne in die muur wegrol.”

Toe die eerste venster oop was, kyk ons uit. Daar was niks as die stikste donker nag waarin ons uitsien uit die heldere lig van binne. Ek kon nie help om te ril nie. Die eensame nag – weg van mens en mensewoning, weg van alles wat om en by ons was van ons wieg af, swerwende swewende in die uiterste duisternis.

,,Maar waar is die sterre dan, Loeloeraai ?”

,,Nie in daardie rigting sigbaar nie, Stoffel. Ons is in die nag van die aarde af weg, ons is nog altyd in sy skaduwee. Ons kyk nou vas teen sy donker kant nes julle gewénd is om teen die nuwe maan te kyk. Die maan maak nie die hemel donker nie omdat hy te vér is om ’n merkbare deel daarvan te bedek. Maar onthou, ons is nog sommer hier vlak by die aarde. Hy sluit vir ons na hier die kant toe alles weg. Ook natuurlik bedek hy die son vir ons. Maar wag, ek sal na die ander kant toe oopmaak.”

En toe daardie ruit in was en die skyf rol weg voor die glas, bars ons almal uit van verrukking. So ’n gesig het geen aardbewoner nog ooit gesien nie. Immers van die aarde af sien ons die sterre dof deur die dikke lae van die lug. Ons bou sterrewagte op hoë berge, maar nog is ons soos moddervisse wat deur troebel water opkyk na liggies wat van bo deur hulle medium inskyn.

Toe ons hier uitkyk, was daar een glorieglans van sterre teen mekaar gepak, skitterende met ’n heerlikheid wat byna verblindend was. En hulle had kleure hier – groenes, rooies, bloues, geles en tussenin spierwittes, almal vonkelend van lewe asof dit ’n roerende panorama was.

,,En tog,” sê Loeloeraai, ,,julle mense op die aarde is nog hoog bevoorreg. Julle eerste wetenskap, veral julle eerste begrippe van die beginsels van die matesis, het by die waarneming van die sterre begin, duisende jare gelede. Was die sterre altyd vir die menslike oog bedek, watter barbare was julle nie nog vandag nie.”

,,Is die sterre dan nie van al die planete af sigbaar nie, Loeloeraai ?”

,,Nie van óns wêreld af nie,” sê hy. En toe vertel hy ons een van die seldsame dinge wat hy ooit van Venus vermeld het. ,,Ons het ’n steiler opdraande pad gehad om te klim as julle, Kerneels. Venus is met ewige wolke bedek. Uit die gedrag van ’n slinger en van hoogvallende voorwerpe het ons sy eie beweging afgelei. Totdat ons sterrewagte gebou het wat bokant die wolke uitsteek. Ook óns beskawing het swaar en stadig gekom, Kerneels.”

,,Loeloeraai,” sê Vroutjie, ,,wanneer sal ons die aarde weer kan sien ? Of hou ons in sy skaduwee aan tot by die maan ?”

,,A nee, a!” val Engela in. ,,Ons kan nooit so aanhou nie. Ons moet uitdraai en ry langes die skaduweestreep.”

Loeloeraai glimlag. ,,Ons sal om ’n ander rede uitdraai – ons ry nóú skuins om daaruit te kom. Toe ons van die aarde af weg is, was dit laaste kwartier. Ons moet die teenoorgestelde koers vat sodat ons die baan van die maan kry waar hy sal wees as ons daar aankom. Jy weet, Engela, as ons hom agterna moet ry vang ons hom nie, selfs met hierdie snelheid nie. Hy loop om ’n sirkel waarvan die aarde naastenby die senter is en die straal gemiddeld tweehonderd-en-veertigduisend myl, in iets oor die 27 dae. Dus moet sy snelheid ’n klein bietjie meer wees as ons s’n van duisend myl in die uur.”

,,En hoe lank sal dit ons neem om uit die skaduwee uit te kom ?”

,,’n Paar uur,” sê Loeloeraai. ,,Die skaduwee het natuurlik die deursnee van die aarde – naby die agtduisend myl. Maar ons was nie in die middel daarvan nie want ons is nie middernag daar weg nie. Ek gee aan die hand dat ons nou ’n stukkie eet en dan ’n bietjie slaap – ek dink julle het dit nodig ná die opwinding. En dan beloof ek julle ’n mooi gesig.”

,,Hoe laat is dit, Ouman ?” vra Vroutjie.

,,Half-elf. Maar nou laat jy my dink – ek moenie my plig versuim nie. Ons vriende sal nuuskierig wees wat van ons geword het.”

Loeloeraai maak ’n dekseltjie oop in die vloer en hy gee my ’n telefoontoestelletjie aan.

,,Hello!” sê ek. ,,Hello! Is dit ,Die Burger’ daar?”

,,Ja. Maar ons is besig. Kan jy nie so vriendelik wees om ons môre op te lui nie ?”

,,Waarmee is julle dan so besig ?”

,,Waar praat jy vandaan? Van Robbeneiland? Is jy die enigste man wat nie weet van die klompie wat maan toe vertrek het nie ? Hier is ’n verslag van twaalf kolomme van Oudtshoorn en daar is nog ses spesiale artikels wat moet klaar kom. Ons gaan môre al die ander koerante uitklop.”

,,Ek gee dan nie om om te wag tot môre toe nie,” sê ek. ,,Sê solank groetnis vir die staf.”

,,Nou ja, dankie. Maar wie is dit wat praat en waarvandaan?”

,,Langenhoven, uit die interplanetêre ruimte.”

,,Magtig man – wag, wag; moenie afsluit nie. Natuurlik is dit jy. Ek het nie eens opgelet dat dit die spesiale instrumentjie is wat gelui het nie.”

,,Nee,” sê ek. ,,Wag jy nou. Wie praat daardie kant ? Dit gaan nie na Dawie nie.”

,,Ek is van Donnerhellings hier,” sê hy.

,,Aikonna,” sê ek. ,,Ek het genoeg sonde met jou op die aarde gehad. Roep die hoofredakteur en ’n betroubare snelskrywer as daar ooit ergens so ’n ding te kry is.”