Jump to content

Loeloeraai/Twee verowerings nodig

From Wikisource
’n Smeekstem om hulp Loeloeraai
Twee verowerings nodig
deur C. J. Langenhoven
Afskeidstoesprake


Twee verowerings nodig

[edit]

Woord vir woord, soos Loeloeraai vir my die boodskap aan die lesers van ,,Die Burger” gedikteer het, so het ek dit neergeskryf en so laat ek dit hier volg.

Loeloeraai, aan die lesers van ,,Die Burger”: Groete!

Uit julle naam het ,,Die Burger” in sy hoofartikel van laaste Dinsdag ’n beroep op my gedoen, en uit naam van die volke van Venus wat ek verteenwoordig, antwoord ek daarop. Maar om daarop te antwoord, is een saak; om daaraan gehoor te gee is ’n ander.

Dis ’n beroep op my liefdadigheid waaraan ek van harte sou voldoen. Want ek het hier baie liefde ontvang – ek, ’n vreemdeling sonder aanspraak daarop – en ek het niks daarvoor gedoen om my dankbaarheid te betuig nie. Dis ’n beroep om mee te deel wat my niks sal kos nie, want die skat van kennis word nie verminder met verspreiding nie. Dis ’n beroep uit die ellende van nood, want hoeveel onnodige leed is daar nie hier op julle aarde nie, en wáárdeur word lyding veroorsaak as deur onkunde ?

My vriende, as daar dan die vermoë is om te gee, en die geneentheid om te gee, en die nood om aan te gee – wat hou my terug ?

Laat ons nadink oor die betekenis van wetenskaplike kennis en die vermoë wat hy verskaf om die natuurkragte in te span. Hy beteken baasskap. Want wie van julle wat ’n meulerad deur ’n stroom water laat draai, het nie van die natuur sy dienaar gemaak nie ? En daardie baasskap beteken soveel te meer omdat dit ’n heerskappy is wat uit slawerny behaal is. Die aanwending van natuurkennis is suksesvolle rebellie.

Die natuur immers is ’n dwingeland. Hy gebied daardie stroom water om na die laagte af te daal, en dit maak so. Hy gebied die damp van dieselfde water om in die hoogte op te styg, en dit maak so. Daar is geen verset nie, daar is geen moontlikheid van verset nie, daar is geen wil tot verset nie. Was alle stof leweloos en sielloos dan was daar nooit rebellie teen hierdie gesag nie.

Maar in die dooie stof is ’n gees van lewe geblaas op ’n wonderwyse wat oneindig bo die bevatting is ook van ons Venus-bewoners. Met die lewe het daar ’n ander heerskappy oor die stof gekom. Want in die lewe is daar ’n siel en ’n wil. ’n Wil wat kan kies, wat gehoorsaamheid kan kies. Ja, maar as hy nou ongehoorsaamheid kies ? Hoe sal die natuur sy gesag handhaaf oor die besielde wese soos oor die dooie klip ? Sonder teëspraak rol die klip maar van die krans af soos die stroom water na die see toe rol. So ook sal die dier daar afrol. Maar as die dier nou sy eie wil handhaaf en kies om nie oor die krans se rand te loop nie . . . ?

Aanvanklik tog vind die dwingeland middels om gehoorsaamheid te verseker. Hy span die lewe in tot ’n harder slawerny as díe van die lewelose stof. Want die lewe het gevoel en bewustheid van die juk wat hom beswaar.

Beskou tog, my vriende, die lewende bevolking van die aarde in sy geheel – mens en dier en plant. Is dit nie ’n aaklige skriktoneel nie? Dis één aanhoudende wrede roekelose worstelstryd. En vir elke lid van daardie samelewing ’n stryd wat uiteindelik uitloop op ’n onverbiddelike nederlaag. Die tier mag die bokkie verslind – ook vir hom op die allerbeste wag daar ’n ou dag van swakheid wanneer hy geen bok meer kan vang nie, en ’n stadige hongerdood. Van die hoogste tot die laagste, deur die duisend-duisende eeue heen is hierdie skrikbewind voortgesit oor ’n tallose heirskaar van swoegende, strydende, lydende, steeds mishandelde slawe.

En daardie slawediens met ellende vir sy loon en die dood vir sy bestemming, is nog nie wreed genoeg nie. Die lewe moet homself vermenigvuldig en voortplant opdat daar voorsiening mag wees vir ander slawe na hom – geslagte op geslagte van arbeiders, stryers, lyers, sterwers.

Vanwaar dan die gehoorsaamheid ? Vanwaar die onderwerping? Die offerande op ’n nooit versadigde altaar van nuttelose niksbeduidende niemendal ? Die lewe het dan ’n siel en ’n wil en ’n keuse – waarom kies hy sy eie pyniging ? Waarom speel hy sy gevoellose roekelose baas se speletjie om hom met sy ellende te vermaak ? Waarom beoog hy nie sy eie belang, vind hy nie sy dryfveer in verstandige selfsug in plaas van dwase offersug nie ?

Of, as ons die vraag andersom stel, waar kry die natuur die tugmiddels vandaan ? Waar is die slaafdrywers met hulle swepe ? Kyk, my vriende, daar is geen uitwendige tug nie. Die hele geheim van die speletjie is bluf en bedrog.

Die dwingeland het gesorg dat sy onderdane drie aansporings vir hulle eie bedrog sal hê: honger en vrees en liefde.

En die drie is onafskeidbaar van die lewe. Want die dier wat hom nie daardeur sou laat dryf nie sou omkom en geen kroos laat nie. Om sy honger te bevredig, verslap die lewe nooit in sy arbeid of in sy wreedheid teen sy eie lewensgenote nie; uit sy vrees vir pyn en dood span hy hom tot die uiterste in om sovér moontlik die weg van smart te volg na die bestemming van die dood; aan sy liefde vir sy eggenoot en sy kroos bring hy nog swaarder offers as aan sy honger en sy vrees. En so dien die besielde stof met bewuste en berekende keuse soos die lewelose stof met lydelike onbewustheid, maar albei dien. Die heerskappy is volkome, die despotisme absoluut.

Hoe dan was rebellie moontlik ? Hoe het die eerste verset ontstaan ?

Die lewe, my vriende, het die bedrog van sy gesag ontdek. Onder so ’n regeringstelsel was stilstand onmoontlik. Daar moes noodwendig ontwikkeling wees. Daar moes ’n tydstip kom waarop die siel van die lewe soveel vernuf aangekweek het dat hy in staat geraak het om die voorwaardes van sy diens te leer ken en daardie kennis moes hom onvermydelik uit sy slawerny verlos. Want onder die wette waaronder hy buk, buk sy ganse omgewing. Julle eerste voorouers wat ’n stomp gedra het uit die oorblyfsels van die bos wat deur die weerlig aan die brand geslaan was, en die vuur aan die gang gehou het om die roofdier weg te hou en die nag te verlig en die winter te verwarm, was die voorgangers van die rebellie. Daarvandaan het die mensheid al voortgaande stelselmatig slawe van buite geneem om hulle eie slawerny te verlig. Daarvandaan moes die bome groei en arbei met lig en warmte en lug en aarde nie alleen om saad te skiet vir nageslagte van hulle eie soort nie, maar om brandhout te verskaf aan die oproerlinge. Ook had hulle vantevore geslaaf om met blad en vrug die honger van ander slawe te versadig; maar hier was nou die vernuf wat met bewuste opset deur ’n reeks van middels tot ’n berekende doel kon geraak. ’n Ras van slawe was deur aanhoudende verédeling ontwikkel wat die gewig van hulle juk leer ken het, en die oorsaak waarom hy so swaar is, en die geheim om hom te verskuiwe of selfs om van hom ’n nuttige stuk gereedskap te maak.

Maar daardie vernuf en kennis tot verlossing het baie stadig aangegroei. Hoeveel duisende en duisende jare het nie verloop sedert die aandra van daardie eerste stomp vuur nie! En wat het dit nie gekos aan inspanning en miskenning en martelaarskap nie om daardie eerste kennis sovér te ontwikkel dat julle baas julle vandag met sy stoom en sy elektrisiteit dien! Voorwaar, my vriende, ook die weg van kennis was ’n weg van harde slawerny: maar hierdie slag was dit die slawerny tot vryheid. Die stryers had ’n ideaal, ’n ander as die vorige ideaal om maar net te eet om te kan swoeg en te lewe om te kan ly en voort te plant tot verder swoeë en lyding.

En waar, my vriende, het die bitter behaalde vooruitgang julle vandag nog maar gebring? Van al die lande van die wêreld styg die gekerm van die mensheid nog maar op soos dit opstyg van die diere, soos dit opgestyg het van julle wilde voorouers. My vriende, julle het nog maar die eerste begin gemaak met die rebellie wat op julle uiteindelike heerskappy moet uitloop. Ook op my wêreld het ons nog nie die endoorwinning behaal nie – want met volmaaktheid, waar sou die heerlikheid van strewe wees ? Maar teen die onreg en dwaasheid en ellende van die aarde is die lewenstoestand op Venus ’n hemel.

En nou vra julle my, my vriende, en ek waardeer die diepte van smagtende droefheid van julle vraag – julle vra my, as die duisende jare julle maar vandag tot hier gebring het, hoeveel duisende sal dit nie nog kos om julle te bring waar óns heen gehaal het nie ? En terwyl daar hulp is, moet ek julle ongeholpe laat ? Terwyl dit in my vermoë is om julle voor te lig, moet ek julle in die donker laat ? Waarom sal ek julle nie die verdere nag van dwaling en worstel en lyding bespaar en julle aan die hand neem en meteens na die daeraad lei nie ?

Is dit nie treffend nie, vriende, dat daar nog nooit ’n openbaring gekom het van die geringste natuurkennis nie ? Die natuur was nog altyd vry en ope vir julle navorsing; julle had die verstandelike rede daarvoor. Maar hulp had julle nie; julle moes julle eie onderwysers wees. Hoe pynlik en stadig – ja, hoe onnosel en onnodig stadig, die vordering ook was, julle moes op julleself staatmaak sonder buitemenslike of bowemenslike voorligting. Waarom? Omdat kennis, anders as deur julleself verkry, tot julle groter ellende sou gelei het.

Ja, lyk julle selfverwerfde kennis nie reeds of hy te snel gevorder het nie ? Julle het die stoomkrag in julle diens ingespan. Uit ontsaglike fabriekstede styg swarte rookwolke op na die hemel om te getuig van julle oorwinning oor die natuur. En die heerlikheid van die sonneskyn en die glorie van die sterrehemel is agter die donker wolke weggeraak. En duisende van julle medemense slaaf in die fabrieke soos stukkies masjinerie, sonder ’n wil, sonder ’n doel, sonder belangstelling: ’n lewelose lewe, ’n onmenslike menslikheid. Die harde slawerny van die natuur is vervang deur ’n slawerny van wetenskap wat oneindig harder is. Die diens wat julle verniet gekry het om julle lot te verlig, het dit verswaar.

As ek julle sou kennis meedeel, watter gebruik sou van die kennis gemaak word ? Die onlangse slagvelde van Europa het getoon waartoe die wetenskap kan ingespan word. Aan wie se mag – aan watter regering se mag op aarde – kon ek dit waag om die vloekseën van verder wetenskap toe te vertrou ?

Want, my vriende, die een suksesvolle rebellie is nie genoeg nie. Daar is nie alleen die natuur daarbuite om te oorwin nie. Daar is die natuur wat binne is. ’n Dier plus verstand en kennis en sonder meer is ’n duiwel. Die binneste tugmeesters van die dwingeland – liggaamlike honger en vrees, sinnelike liefde, moet saam oorwin word. Die selfsug wat sy geluk soek met roekelose onverskilligheid omtrent die geluk wat hy by ’n ander verderf, moet plaas maak vir die offersug wat sy behae vind in gee in plaas van neem, in uitdeel in plaas van skraap. Op die ou end is dit die verstandigste selfsug. Hy lei tot die hoogste geluk. En dis nie ’n nuwe aankondiging wat ek maak nie, my vriende. Hierdie weg van heil is julle byna twee duisend jaar gelede duidelik aangewys. Had julle hom maar gevolg dan was die aarde vandag ’n Venus.

Vergewe my tog, my vriende. Ek wil nie onaangename dinge sê wat dit vir ’n gas en ’n vreemdeling nie mooi is om te sê nie. Maar julle het my gevra en ek moet eerlik wees. So min vordering het julle nog gemaak met die grotere rebellie – die verset teen julle eie selfsugtige diere-aard – dat selfs waar julle die beginsels van offerande en liefdediens van buite wou toepas, het dit op ’n aaklige ramp uitgeloop. Die Franse rewolusie was gegrond op die vrome beginsels van vryheid, gelykheid, broederskap. Die Russiese bolsjewisme op die vrome doel van die beheer van die voortbrengsels van die wêreld in die hande van die werkers van die wêreld. En in plaas van die beoogde geluk het daardie proefnemings die vorige ellende verdubbel en verhonderddubbel. Waarom? Omdat dit nie help om aan die ingesetenes van ’n kranksinnige gestig redelikheid en wysheid te preek en die grendels van die deure af te gooi nie. Soos die wetenskap nie eensklaps gekom het nie, so kan die herbore mensheid nie eensklaps kom nie.

Watter regeringsvorm, watter ekonomiese staatstelsel, sal julle vra, het ons dan op Venus ? My vriende, ons het geen regeringsvorm daar nie. Daar is geen dwang nie want daar is geen ongehoorsaamheid nie. Daar is geen wedywer om loon nie want liefdediens is sy eie loon. En in die loop van die eeue, sedert ons duisend-duisendjarige ryk aangebreek het, het ons ondervind dat die offerande geen offerande meer is nie, die diens geen arbeid nie; dat ons nie oor geluk hoef te stry nie want die geluk is daar in oorvloed om te neem. Wie sal ook goudgierig wees as hy soveel goud vry kan vat as wat hy begeer ? Die verskil tussen selfsug en offersug het by ons verdwyn.

En hier op aarde dan ? As die erfenis moet wag tot die erfgename mondig is, as die troon moet wag tot die prins bevoeg is om te regeer, as die wetenskaplike oorwinning alleen geluk kan bring wanneer hy voorafgegaan word deur die selfoorwinning – dan, my vriende, soos die een trapsgewyse vorder so kan die ander alleen trapsgewyse vorder. En ek merk reeds, as ek dit mag sê, alle tekens van so ’n aangevange vooruitgang. Julle staan baie, baie ver bokant die dierlike wreedheid van die wilde barbaar. Soos die ouer sy hongerige kind voed, sy swakke kind beskerm, so getuig julle hospitale en vrye skole en noodlenigingsinrigtings van die uitbreiding van kroosliefde en man-en-vrou-liefde tot naasteliefde en menseliefde. Daar, hand aan hand met die dryfvere van eiebelang en selfsug waarsonder die mensdom van die aarde ten gronde sou gaan soos die roofdiere ten gronde sou gaan sonder hulle wreedheid : saam met daardie dierlike aanspoorkragte wat nog hier nodig is, sal daar langsamerhand groei – groei daar nou langsamerhand – die hoër adel van medelye en milddadigheid en diensvaardigheid. Julle groot weldoeners: julle wetenskaplike navorsers, julle beoefenaars van die verédelende kunste, julle hervormers en martelaars – is dit nie reeds hulle gebruik om sonder loon te werk, ja om rykdom en weelde en eersug te verag nie ? Om tot ’n volksbesitting te word, moet hierdie bowedierlike gees by die enkelinge begin. Elke nederige onerkende offerdiens, elke liefdegawe sonder berekening van terugkeer, is ’n bydraag tot die vermensliking van die mensheid.

Vat moed, my vriende! By al die onreg en wreedheid, die onnodige leed en ellende, wat nog op die aarde heers, is daar deug en liefde wat vir julle baie beminlik maak. Inagnemende waar julle begin het en waar julle gehaal het, is die ou aarde nie ’n oneer vir die sonnestelsel nie. Op die ou end lyk dit vir my julle rebellie teen die kwaad daarbuite het nie julle rebellie teen die kwaad van binne vooruitgeloop nie. Julle verstand is nie verder gevorder as julle hart nie.

En met hierdie woorde eindig ek my besoek aan die skone hemelliggaam wat deur die eeue heen aan ons uitspansel gepryk het soos ’n goddelike juweel. Want, o aardbewoners, julle is soos ons, hemelbewoners. Alleen maar: die engele maak die hemel, nie die hemel die engele nie. Aan geen wesens kan geluk van buite meegedeel word nie. Daarom soos ek julle gekry het moet ek julle laat. Loeloeraai se hart is baie seer; hy het die salf en hy moet die sieke in sy smarte laat.

Loeloeraai seg julle, o aardbewoners, vaarwel.