Jump to content

Die Afrikaanse gedagte/Die Ontwikkeling van ons poësie sedert Unie

From Wikisource
Lewensstyl Die Afrikaanse gedagte
Die Ontwikkeling van ons poësie sedert Unie
deur C. M. van den Heever
Waardering van 'n gedig


Die Ontwikkeling van ons poësie sedert Unie.

Wat poësie in die lewe van 'n volk kan beteken, dit het die Tweede Taalbeweging vir ons bewys. Daar bestaan by baie mense 'n lawwe, verkeerde idee dat poësie te doen het met weke gevoelens, dat dit 'n verwyfde besigheid is; by 'n ander tipe mens is daar 'n vae afsku, 'n vrees op te merk vir die digterlike uitdrukking van die gees. Waarom? Omdat dit die lewe so na sy diepte en waarheid gee, omdat dit die mensehart - wat tog alreeds so bedek lê onder 'n vrag konvensionele huigelagtigheid - onthul en die essensiële daarvan vir ons bring. En dit wil die meeste mense liewer nie hê nie. Dit laat hulle ongemaklik voel asof hulle reguit moet kyk in 'n paar suiwer, eerlike oë. Maar almal wat weet wat erns, opregte smart en verrykende oomblikke in die lewe van 'n volk, van 'n indiwidu is, het 'n stille verering vir die poësie, waarin die sagte weerspieëling van geadelde ervaring lê. So het ons volk ook, ná die Tweede Vryheidsoorlog, geweet wat ware smartbelewing is, hoe dit die mens en die volk kan neerslaan maar ook kan ophef, hoe die poësie die waaragtige draer van daardie ervaring kan wees en die teerste sowel as die kragtigste vir ons kan oproep. Wanneer ons lankal verdwyn het, het ons nageslag „Die Seepkissie,” „Viermaal gesien,” „'n Winternag” lees en weet wat diepe ouerliefde is, wat die smart en eensaamheid beteken wat jou aangryp as jy weet dat, trots alle offers, jy jou land verloor het.

Die Afrikaanse poësie het 'n waarde wat vir ons veel meer is as die geskiedenis wat ons in die gewone geskiedenisboeke vind; dit gee vir ons 'n beeld van die hoogste momente in die innerlike lewe van ons volk, soos uitgedruk deur iemand wat deur sy fyn-georganiseerde aard geroepe is om dit te doen. En so het die poësie wat in Afrikaans geskrywe is gedurende (69) die afgelope vyf-en-twintig jaar, vir ons 'n ryk menslike waarde: uit die stemminge en beelde, die landskaptekeninge en oorlogsmymeringe kom daar 'n gees tot ons, 'n Afrikaanse gees wat gedurende daardie tydperk al sterker ontwikkel het en op die voorgrond getree het. 'n Afrikaanse gees. Seker. Daarsonder was die skepping van die nuwe poësie onmoontlik. Die Afrikaanse gees het reeds gesond ontwikkel in die tyd van die Eerste Taalbeweging; maar dit is eers deur die oorlog verdiep tot gelouterde ervaring en het aan dryfkrag gewin met die verruimende uitwerking van die nasionale sin wat al sterker by ons volk gegroei het hoe meer dit ontwikkel het. Dit is daardie Afrikaanse gees wat die gedagte- en gevoelslewe van ons beste skrywers deurdrenk het en in hul gevoelige taalbeelding tot uiting gekom het; want sonder daardie gees kon die grootste liefde vir ons vlakte-oneindigheid, vir ons volk se heldestryd, vir ons opkomende taal nie so kragtig in die onderbewussyn van ons volk ingegroei het nie. En hoe sterker daardie gees tot gesonde en suiwer openbaring gekom het in ons letterkunde - nie as chauvinistiese gekletspraat van rymelaars en politici nie - het ons letterkunde gegroei in diepte en in die tipies-eienaardige.

In 1910 besit ons reeds bundels soos: Die Vlakte en ander Gedigte, By die Monument en Verse van Potgieters Trek - dus meestal gedigte waarin, naas die liefderike siening van ons eie landskap, die volk se lyding gedurende die oorlog geteken word, asook die drang na vryheid, wat met die Groot Trek in erns begin het. In 1910 het Celliers Die Brandwag met die volgende kernagtige woorde verwelkom, woorde wat duidelik bewys hoe diep hy verstaan watter stryd daar nog gestry moet word om tot selfverwesenliking te kom:

Brandwag, hou
die wag getrou;
slapers lê in lome rus
van gevare onbewus,
ongewek tot stryd en strewe
in die kampperk van die lewe;
hoor hul woord: „die stryd 's gedaan,
waarom nounog brandwag staan?”
Brandwag, dubbel waaksaam nou!
aan jou sorg is hul vertrou.


Uit hierdie atmosfeer ontstaan die meeste gedigte van daardie tyd. In 1911 verskyn Oom Gert Vertel en ander Gedigte (70) van Leipoldt, en die Afrikaner word met 'n skok weer teruggeplaas in die ellende van die oorlog, terwyl die Afrikaanse leser opeens besef hoe in sy eie taal al daardie lyding verewig is. En dit is juis wat die poësie kan ophef uit sy eng-indiwidualistiese karakter, waarin dit in Europa aan die einde van die negentiende eeu verval het: dit moet verruim en deurstroom word deur die volkservaring. „Het zijn de ideën, de religieuze aanvoelingen, de onbewuste idealen van het volksgeheel die de kunst groot doen zijn van gedaante en gehalte, groot en zuiver in haar meest argelooze uitingen,” soos Just Havelaar dit so mooi uitgedruk het. En dit is juis gedurende hierdie periode van ons letterkundige ontwikkeling dat die volksgevoelens op die voorgrond is en 'n subtiele uiting vind in die werk van digters soos Celliers, Leipoldt en Totius. En die grondtoon van die meeste van hierdie oorlogspoësie is: ons sal onthou. Luister na die diepsinnige wyse waarop Leipoldt dit uitgedruk het:

Twee dinge sê ek vir jou, ou boetie -
die een is: „Vergeet wat jy kan!”
Die ander: „Onthou wat jy moet, ou boetie!”
Is dit nou te veel vir 'n man?
Twee dinge sê ek vandag vir myselwe -
die een is: „Onthou wat jy kan!”
Die ander: „Vergeet, wat jy moet!” Dis amper
te veel om te verg van 'n man!

In dieselfde toon eindig ook Totius se grootse werk Rachel (1913): „Sal ons vergeet 'n treurverlee...”, en Malherbe word deur dieselfde gedagte besig gehou in sy roman Vergeet nie (1913). Dit het 'n tydjie geneem ná die oorlog voordat die verbysterende belewings in die kuns kon vorm vind. Nou nie meer die spot- en rymwerk van die Eerste Taalbeweging nie, maar erns, die erns wat gebore word uit besef, uit die gedagte dat die volk se vryheid verlore is en dat dit met onsekere skredes die toekoms tegemoet gaan. Wat die vorm betref, is hierdie werk volkspoësie. Nie die ingewikkelde mededeling in fyn-geritmeerde woord- en strofe-bou word gevolg nie, maar meestal die direkte uitkristallering van die idee en gevoel soos ons dit in alle suiwer volkspoësie kry; maar nie die weke, doodeenvoudige lied wat langs die strate huppel nie, dit is volksgedagtes en volkservaring wat die digter geadel het tot kuns. Hoe eenvoudig vertel oom (71) Gert sy verhaal: maar wie fyn luister, hoor die innig-gespanne toon, die beheerste ontroering wat in alle groot poësie aanwesig is. En waar sal ons suiwerder volkspoësie kry - en tog so indiwidueel aangevoel - as in Leipoldt se gedigte oor die konsentrasiekampe? Geen wonder dat Dirk Coster dit vergelyk met die aangrypende Geuse-liedere nie! In hierdie gedigte het ons 'n skrynende toon en hoor ons, op die agtergrond van die volksellende, reeds die indiwidualistiese digter van later wat tog so verbyster is oor die leegheid wat daar huiwer agter die uiterlike weelde van die natuurskoonheid. Waar ons by Leipoldt 'n sterk gevoel van opstandigheid, 'n verwikkelde gevoelskompleks kry, daar is Totius die tere sanger wat mymerend na die verlede heenkyk en daaruit gestaltes sien aanskemer wat 'n simboliese toekoms dra vir die nasie. In 1908 het hy reeds in sy bundeltjie By die Monument die lied van Man, Vrou en Kind in die kampe besing, in 1909 gaan hy nog verder in die geskiedenis terug en beeld Potgieter as die ideale republikein uit. In 1913 vat hy sy hele opvatting van die oorlog, van die namelose lyding van vrou en kind ge- durende dié tyd, in sy fyngeboude werk Rachel saam, wat, in weerwil van die somber taalstemming van die werk, tog eindig in 'n hoopvolle toon. Jan Celliers, wat hom ook besig gehou het met dieselfde oorlogsmotiewe, het dit veral sterk uitgebeeld, want deurgaans is hy die wakker vaderlander wat hou van die gespierde woord, die kragtige segging. Wat wel die grootste wins in hierdie poësie van ná die oorlog is, is die verdiepte siening van die natuur, die deurskouing daarvan tot- dat dit 'n simbool word van die menslike ervaring, totdat dit die kleur aanneem van die digter se belewing. Wel kry ons nog baie louter natuurbeskrywing, maar die geladenheid van gedagte, die rykdom van idee deurdring ook nou die natuur- wonder, en in die beste digterlike sieninge is idee en natuurbeeld tot 'n eenheid gegroei, wel die duidelikste teken van die styging in die waarheidskarakter van ons kuns en van die intensiteit van belewing, wat suiwer en verrassend 'n vervloei ing in die wonder van die taal vind. Want nou eers begin die digters hulle so stadigaan te ontdoen van die wapenrusting van stywe Hoog-Hollandse vorme en begin hul intiemer gevoelens vry en elasties te beweeg in die ryke skakeringe van Afrikaans.

Dit was nodig om 'n oomblik stil te staan by dié gedigte wat in 'n oorlogsatmosfeer ontstaan het, want om hul egtheid en diepdeurleefde skoonheidservaring behoort hulle tot die beste wat in ons taal geskrywe is. Maar die atmosfeer moes (72) gaandeweg verdwyn, want die lewe groei en skep gedurig en wat vandag felle werklikheid is, is môre gepuurde herinnering, dinge wat ver-af lê soos die sonrooi van die dag wat gaan sterwe. Die persoonlike aksent in die kuns, die „dagboekervaring” van die kunstenaar se lewe vra die aandag. So het dit reeds vroeër voorgekom; maar namate die volksgevoel op die agtergrond van die digter se ervaring wyk, kom sy eie belewinge in die vorm van persoonlike liriek op die voorgrond. Luister na die toon van 'n Leipoldt wat na die toekoms kyk en weet dat nie doellose verdriet of gebrek aan dankbaarheid 'n volk groot maak nie, maar dat verdriet jou moet adel en krag gee vir die erns van die arbeid wat alleen heel en opbou:

Gee vir my 'n trouring;
Gee vir my 'n vrou;
Gee vir my 'n babetjie:
Neem die res vir jou!


Wat wil jy met trouring?
Wat wil jy met trou?
Wat wil jy met babetjie?
Jy, nog in die rou?


Neem die werk as trouring;
Neem jou land as vrou;
Die toekoms as jou babetjie:
Dis genoeg vir jou!

Hierin hoor ons reeds die Leipoldt van later, die romantiese natuurliefhebber met sy angs vir die donker wat kom en sy vrees dat die bloeiende skoonheid kan verbygaan; ook die verruimende menslike trekke sien ons in sy poësie wat die karakter daarvan so seer verhoog. Watter graad van fynheid ons digkuns in 1911 reeds bereik het, word afdoende bewys deur Totius se Wilgerboombogies, waarin die persoonlike aksent, veral dié van eie verdriet, oorweeg, en dit in teerdeurleefde verse uitgroei tot simboliese skoonheid waarin die misterie van die dood soos in 'n diep watervlak afgespieël lê. Daar is ná 1911 baie min in Afrikaans geskrywe wat vergelyk kan word met die volgende diepsinnige reëls:

„Alle vlees is gras” - ontsaglike woord,
Somber verklank - in nog somberder oord!
Oord - verskriklik vereensaamd, 'n effe verskiet,
Waar die winde herhaal hul huilende lied;

(73)

of diep geswyg luister asemloos stil,
as die grasklos nie roer op gevoelige spil.
Kransegeweld, teen die hemel geklim,
verbreek nie die lyn van 'n bleek-leë kim;
geen boom vul die lug met donker gestreep,
geen stroom wend hom weg met sy silwer gesleep-
dis gras, alles gras, een wilde wei,
en heel enkeld 'n blomme daar tussenbei.

Hier het ons die Calvinistiese digter aan die woord wat so suiwer in die vorm van beelde, van wyer-vloeiende sieninge ons sy lewensbeskouing gee. Totius, sowel as Celliers, word al meer getrek deur die intiem-aangename van die huislike lewe; albei is teleurgestel met die verloop van ons volkslewe; maar deur hul vensterraam sien hulle nog altyd die majesteit van die sterrehemel hang en is die vraag na die geheim van die lewe nooit stil nie, al maan 'n ernstige lewensbeskouing hulle om aan te neem en te swyg. Die rustige verteltoon kom ná 1910 ernstig in ons poësie op, en die oorlogsgebeure skemer nog hier en daar deur, sowel as historiese motiewe: ons dink aan Martjie, Rachel, Trekkerswee, Dingaansdag, Die Timmerman, Vir Vryheid, ens. Die liriese klank word oral tussenin gehoor, maar die vloeiende vertelling in rustige versmate vier die botoon. Hierdie bundels word oor die algemeen beter deur die volk ontvang as streng persoonlike liriek, omdat die gewone leser graag iets wil hê „om 'n tou aan vas te knoop” en baie van hulle nie weet hoe om fyn, indiwiduele poësie te vertolk volgens hul eie ervarings nie - meestal is hulle eie ervarings te grof, te oppervlakkig en lees hulle oor hulle subtiliteit heen. Hulle wil die ervaring in 'n leesbare verhaal ingeskakel hê, sodat hulle dit kan „verstaan.”

Omstreeks 1919 kom 'n aantal jongeres op die voorgrond, en in hul werk kan 'n nuwe klank gehoor word; baie nuut is dit egter nie, want alhoewel die sonnetvorm nou ernstig gebruik word as tekens van indiwiduele uitingsdrang, daar 'n mate van opstandigheid is teen die tradisie-vaste opvattings, bly die meeste motiewe bekend - die belangrikste verjonging is seker die opbloei van die liefdesliriek - en daar is nie so 'n mate van vormvernuwing dat dit baie opval nie. Verreweg die begaafdste digter van hierdie groep is Toon van den Heever, wie se bundeltjie in 1919 verskyn het. Fyn-gespanne in hul uiting, met 'n subtiele waardering vir oorspronklikheid in woord, beeld, klank en idee is hierdie gedigte, geboetseer deur iemand wat die konflikte van die lewe aangevoel het en in 'n (74) nerveus-skerpe gees tot skoonheidsbeelde omgevorm het. Daar is veel in Afrikaans gerym wat vir ons vandag slap en flou is; maar wie die gedigte van 'n twintigtal jare gelede vandag deurlees, sal baie vind om te waardeer, en veral in Toon van den Heever se poësie sal meer as een reël in sy geheue bly naspeel met die sagte klank van bekoring wat eie is aan alle ware kunsuiting. Ek dink aan die volgende, met die ekstatiese en verrukkende van alle skoonheidsieninge:

Die haelwit gestapelde wolke,
paleis van die winde gebou!
Hoe sal ek hul heimnis vertolke
En saggies dit fluister vir jou?
Verguld steek die nog witter
Af teen die velde van blou,
Soos jou oë en perlemoer skitter
Soos dou.
Sal ek fluister? Ons ryk in die weste
Word van sieraad ontbloot;
Die winde verstrooi nou ons veste,
Selfs wysheid moet dood;
Maar wyl lippe op lippe kan bewe,
Bied my jou mond, Lief, bied nou,
Eer ons gloed, eer ons hartstog begewe -
Soos paleise van winde gebou.


Hierdie vers is van 'n suiwerheid en diepte van lewensbegrip wat dit verhef tot kuns van 'n wêreldpeil. In die sonnette van Wassenaar, wat tot hierdie groep behoort, het ons 'n wydsheid van siening en klank wat vroeër net 'n enkele keer gehoor is. Luister na sy besef van die ewige wat dein deur die tydelike - wat 'n wins aan lewensbesef!

O ewige deining van die Grote en Magtige!
So dein die breed, sterk stroom van volle lewe
In my klein hart. Ek nietigste kristal,
Ek mag ook speel met die glans van die ewigpragtige.
Die skepping het ook my sy doel gegewe:
Een polsslag in die ritme van die Heelal!

Maar ook in ons ouer digters se werk het 'n nuwe toon begin klink. Ons dink veral aan D.F. Malherbe se werk, waarin later 'n mooi styging op te merke val. Veral sy Rivier (75) en Veld (1922) bring merkwaardige gedigte, soos Bosrand, met die breed-deinende ritme, seker 'n hoogtepunt in die Afrikaanse verskuns. Dan is daar die verrassende werk van A. G. Visser, die geniale sanger van die „Suikerbosrand”, die Afrikaanse troubadoer, die edele lirikus van rose en liefde, maar ook die geestige vertolker van ons volk se sin vir die lagwekkende. Verder Langenhoven, die pittige en kernagtige, wat soveel volkswaarhede tot skoonheid geslyp het in sy puntige flonkerverse, Langenhoven, die ryk afwisselende, wat naas eenvoudige gekskeer-verse die inspirerende Die Stem van Suid-Afrika kon skrywe. En Eugène Marais - seker een van die fynste talente in ons letterkunde. Net soos sy 'n Winternag sal veel van sy latere droefgeestige liriek as van die teerste, diepsinnigste uitinge in ons poësie bly lewe. En Leipoldt? Hoe ouer hierdie waarlik groot digter word, hoe dieper sy verganklikheidsbesef groei, sy weemoed oor die skaduwee wat huiwer agter elke blom, maar ook hoe groter sy dankbaarheid oor die skoonheidstroos wat hy op aarde ontvang het. En Totius het, na 'n lang stilswye, ons verras met sy Passieblomme, gepluk uit die tuin van sy smart, maar so suiwer in hul eenvoudige skoonheid dat ons letterkunde daarmee verryk is. Op die agtergrond van hierdie digwerke sien ons gedurig ons volk met sy opkomende kultuur en sy langsaam ontwikkelende smaak. By baie het die betekenis van hul grootste digters vandag nog nie deurgedring nie, en ons moet nog 'n hele afstand reis voordat ons sal besef wat letterkundige smaak en verfyning beteken in die kultuur van ons volk. Maar 'n volk wat in so 'n kort tyd digters opgelewer het soos dié wat ek genoem het, is 'n volk wat geesteskrag, dinamiese lewe en 'n sin vir die grootste in die lewe besit. Maar daar is nog oneindige domeine om te ontdek, en die wonderbare, fyne ekspressiekrag van ons jong taal kan nog delikater aangewend word om al die skakeringe van 'n fyn-georganiseerde natuur se emosies uit te druk. Die gevierde Suid-Afrikaanse digter Roy Campbell het tereg van Afrikaans opgemerk „... it is to-day as full of adventure for the bold and daring as ever any language in history, and unique among contemporary tongues for youth and freshness. Coarse and healthy as a young colt, it is just now in such a state as was the English language when Marlowe first snaffled its jaws with thunder. Established by victory against terrible odds, and finally secure, it now presents itself to the intellect and the imagination as before it was limited solely to the service of the heart and the will; and so it is about to fulfil itself spiritually.” Die toekoms (76) van die Afrikaanse liriek lê in die rigting van vergeesteliking, van 'n dieper delwing in die innerlike fynhede van die gees waar die lig van die uiterlike lewe tot simboolwaarde omgetoor word. En dit is veral verblydend in die laaste jare dat jonger digters soos I. D. du Plessis, Ignatius Mocke, die broers Louw en Uys Krige op die voorgrond gekom het. As daar een ding duidelik word uit hul werk, dan is dit die heilsame, verpurende invloed van die moderne Nederlandse digkuns. Nie alleen het hulle Afrikaans se uitdrukkingskrag getoets nie, maar hulle het die innerlikste gevoel, die digter se ingeklosterde, eensame ek in 'n volle wêreld, waaraan hy tog nie mag deel nie, sy hunkering na ewigheid, op 'n nuwe wyse vir ons openbaar. Mocke, die broers Louw en Krige het in die laaste tyd gedigte geskrywe wat toon dat ons poësie ná die mooi inset van omstreeks 1910, ná die dalinge en styginge tussenin, nou weer 'n opgaande lyn volg. Die weg na die toekoms is seker dié van fynheid en juistheid van uitdrukking, van oorspronklike wending en beeld, van rykdom van idee, - wat beteken dat ons 'n kultuur-persoonlikheid ontwikkel - soos Haarhoff in die laaste jare bewys het in sy werk wat so gedrenk is in die klassieke statigheid en skoonheid. Ons digkuns sal groei namate ons leer om die ewige in die tydelike te besef, om een te word met die ritme van Lewe wat deur en in alles werk. (77)