Jump to content

Die Afrikaanse gedagte/Waardering van 'n gedig

From Wikisource
Die Ontwikkeling van ons poësie sedert Unie Die Afrikaanse gedagte
Waardering van 'n gedig
deur C. M. van den Heever
Nasievorming


Waardering van 'n gedig.

Gedurende die tyd wat ons op skool is, leer ons „resitasies,” want so word baiemaal gedigte bestempel wat geskik is vir voordrag. Ons let dan hoofsaaklik net op die inhoud, alhoewel die wyse waarop die inhoud uitgedruk word, ons tog tot 'n mate kan bekoor. Die waardering van enige kunswerk, so b.v. van 'n gedig, hang natuurlik in hoë mate af van ons lewenservaring en ons vatbaarheid vir die skone.

Baie van ons het gedigte op skool geleer, dit miskien met taamlik veel gebaar en grasievolle stembuiging opgesê, maar het ons die innerlike betekenis van die gedig, die uiting van 'n kunstenaar se belewing daarin aangevoel? Dit is te betwyfel. Baie romans, gedigte en dramas, wat vir ons in ons jeugjare vervelend was, win later aan innerlike waarde. Waarom is dit dan? Eenvoudig omdat ons innerlik gegroei het. Omdat ons geleer het om te verstaan en te waardeer wat die kunstenaar daar uitspreek. Ons innerlike ervaringslewe het nader na syne gekom: dit is gereinig en verdiep deur smaak en die belewing van die dinge self.

Daar is baie mense wat geen gedig lees nie. As jy 'n bundel gedigte voor hulle plaas, dan sug hulle: „Baie dankie, ek sal dit nie lees nie, want ek is nie sentimenteel aangelê nie! Ek hou van die werklikheid, maar gedigte - ekskuus nou dat ek dit so reguit vir jou sê: dit is eintlik iets vir vrouens, vir mense wat dweep. Nee, dit pas nie by my nie.” Hierdie man se voorstelling van 'n digter is dan ook dat hy iemand is wat saans met verlangende oë, vergesel van diepe sugte, na die maan sit en kyk, dat die harde werklikheid dreig om elke oomblik sy gevoelige siel te verpletter. Dit is natuurlik 'n spotbeeld van die kunstenaar wat ontstaan het deurdat mense wat hoegenaamd geen digters is nie, as sulks wil poseer. Die man wat so afkerig is van gedigte en hulle verbind met sentimentaliteit, is nog meer te bewonder - omdat hy tenminste eerlik (78) is oor wat hy voel en dink - as diegene wat met kuns dweep en daar tog niks van weet nie. Ons ken daardie soort mense, wat in hulle boekrakke netjiese boekdele het - oor skilderkuns, digkuns, musiek ens. en as jy net 'n kunstenaar se naam noem, dan slaan hulle hul oë na die hemel in ekstatiese vervoering. Maar daardie mense is in die meeste gevalle dobbelaars met oppervlakkige gemeenplase, koketeerders met dinge wat mens nou eenmaal moet prys as jy vir opgevoed moet geld. Dit herinner ons aan die hooggeplaaste dame, wat dan ook so veel aan kuns „gedoen” het en so lieftallig was oor die skoonheid. Sy het op 'n eetmaal langs 'n beroemde Italiaanse skrywer te lande gekom. Sy het niks van sy werke geweet nie, maar hy was nou eenmaal 'n groot skrywer en volgens sy verneem het, was hy 'n Deen. Om dié skrywer te vlei, sê sy toe: „Dit spyt my tog, meneer, dat u werke wat in Italiaans vertaal is, nie goed bewerk is nie. Die man wat dit gedoen het, weet blykbaar niks van styl nie. Baie van die oorspronklike skoonheid het seker daardeur verlore gegaan.” Tot haar ontsteltenis moes sy die vernietigende woorde hoor:

„Mevrou, my werk is in Italiaans geskrywe!”

Nee, wat die waardering van 'n gedig betref, wil ons nie stompsinnige verblindheid teen die skoonheid hê nie, maar ook geen romantiese gedweep nie, wat tenslotte net neerkom op snobisme en lieftallige aanmatiging. Die waardering van 'n gedig moet berus op ons ontvanklikheid vir die skone, vir suiwer vervormde lewenswaarhede, op innerlike belewing wat blywend uitgekristalliseer is in die wonder van die woord. Ons het verskillende soorte gedigte. Daar is dié soort gedig wat suiwer uitstorting van die gevoel is, dit word gebore uit die stemming van die oomblik. Dit is persoonlik, onmiddellik van aard. Dit is die liriese gedig by uitstek. Ons haal die volgende gedig aan van Guido Gezelle, die Wes-Vlaamse digter. Hierdie digter se werk word veral gekenmerk deur die teerheid, die onmiddellike gevoelsekspressie. As iets hom ontroer, dan word dit dadelik tot 'n gevoelsbeeld wat hy in suiwere vorm verklank. In hierdie gediggie openbaar hy vir ons sy verlatenheid, sy eensaamheid. Hy voel hom so arm, so nietig soos geen mens op aarde nie:

Gij badt op eenen berg alleen,
en ... Jesu, ik en vind er geen
waar 'k hoog genoeg kan klimmen
om u alleen te vinnen:
de werelt wilt mij achterna,

(79)

alwaar ik ga
of sta
of ooit mijn oogen sla;
en arm als ik en is er geen,
geen een,
die noode hebbe en niet klagen kan;
die honger, en niet vragen kan;
die pijne, en niet gewagen kan
hoe zeer het doet!
O leert mij, armen dwaas, hoe dat ik bidden moet.

Hierin het ons 'n bieg, 'n sielsbelydenis van iemand wat in nood is. Geen sentimentaliteit nie. Net die waarheid van die siel. En daarom is dit 'n gedig wat ons ontroer en ons dwing om innerlik te luister. Maar dan is daar 'n rustiger soort gedig, kalm en bedwonge, ontstaan uit 'n emosie wat lank gekoester is, verinnig geword is in die klare dieptes van die herinnering. Ons dink aan 'n gedig soos Totius se Ter Nagedagtenis van. In hierdie deurleefde gedig gee hy vir ons sy smart oor die dood van sy suster, wie se lewe kalm en stil weggevloei het net soos Mooirivier, maar net soos hierdie rivier 'n liglyn laat, waar hy deur die vleie gaan, so was ook haar mooi-eenvoudige lewe. Hier geen opstandigheid of hewige emosie nie. Dit vloei rustig en diep net soos die rivier self:

Skone beeld van stille lewe,
Mooirivier! jy is vir my
ewe beeltnis van háár lewe
wat so saggies hier vergly.
Uit jou gras-oorgroeide velde
speur ek nouliks jou omleeg -
En die wêreld wis so selde
iets maar van haar stroombeweeg.
Maar - steeds somergroen jou walle, -
stroom jy op die tuin-stad aan -
Om haar heen was welgevalle,
Blomme waar haar voet nog gaan.
Seënend sink jy weg, O Mooie!
tot jou kruik is leeg gedra -
seënend sink jy in die sooie
en laat d'aarde groenend na.

(80)

En nes jy, wat in die vleie
ons 'n liewe lig-lyn laat, -
so was ook haar stille verglye 'n
silwer-blinke liefdedaad.

Oor 'n tere onderwerp soos hierdie, so fyn en suggestief, so deurskynend simbolies gegee deur die digter, sou 'n mens 'n lang verhaal kon skrywe, maar die suiwerheid, die verhewe eenvoud, kon alleen bereik word in die vorm wat Totius gegee het. Die ware gedig word dan ook daardeur gekenmerk dat elke woord, elke beeld op sy plek is, dat dit onvervangbaar is. Alles dra by om die stemming, die ware toon aan die gedig te gee. Bekyk ons 'n gedig so, dan word dit heeltemal iets anders as wat die dom-astrante daaronder wil verstaan. Die man wat sê dat 'n gedig sentimenteel is, verberg daardeur sy onkunde of hy probeer op 'n bespotlike manier sy wysheid te lug. Wie nie vatbaar is vir die skoonheid van 'n gedig of van 'n kunswerk nie, is nie vatbaar vir enige vorm van skoonheid in die lewe nie. Hy lei die lewe van 'n dier: eet, slaap, maak geld - bestaan net. Hy merk nie dat daar skoonheid in die wolke is wat oor hom verbydrywe nie. Al wat hy opmerk is: „Dit lyk of dit gaan reën.” Sien hy die ondergaande son, dan dink hy dat dit so stadigaan tyd word om bioskooptoe te gaan! Van die wonderbare sielelewe in hom, weet hy niks. Sy verbeelding en gevoel, daardie goddelike dinge wat gloed en skoonheid aan sy bestaan kan gee, is vir hom dood, of as hy hulle gebruik, dan is dit nie vir prysenswaardige doeleindes nie. Net so banaal is die patetiese dweper met kuns wie se hele sentimentele gedoente op 'n misverstand berus.

Die gedig wat die stempel van waaragtigheid dra, word gebore in die siel van 'n mens wat diep voel en instaat is om wat hy innerlik beleef, suiwer in woorde uit te druk. Deurdat die kunstenaar probeer om in te dring in die hart van dinge, deurdat sy fyngeorganiseerde gestel hom in staat stel om dit te doen, ontdek hy dieper lewenswaarhede. Die uiterlike gelaat van die dinge kry vir hom 'n ander betekenis. Hy leer dit sien in die lig van die ewige, die onverganklike, m.a.w. hy sien simbolies. In die meeste mense se lewe kom daar oomblikke dat hulle plotseling besef hoe klein en nietig die aardse lewe is, gesien teen die ontsaglike agtergrond van die ewigheid. As hulle staan by die lyk van 'n geliefde, as 'n groot heimwee hulle aangryp na 'n persoon of plek wat hulle liefhet, as hulle 'n ernstige siekbed het en dig by die dood omdraai, dan skemer (81) die lewe se dieper betekenis vir hulle deur. As hulle die vermoë besit om daardie gevoel vir ander mense ook voelbaar te maak deurmiddel van woorde, dan is hulle digters.

Ons het in die begin gesê dat werklike lewenservaring nodig is om 'n behoorlike waardering vir 'n suiwer gedig te voel. U kan dit nou verstaan. Want hoe kan u 'n innerlike belewing, 'n ernstige lewenswaarheid vat en innerlik interpreteer as u eie lewe ondiep is, as u net swewe aan die oppervlakte van die bestaan. En dan nog: dit is die plig van elke mens wat vir ontwikkeld deurgaan, om sy eie taal te ken - sy eie taal in die eerste plek en dan ander tale. Die geestelike ervaring word in woorde verklank, en as ons nou nie die fyne betekenisnuanses van woorde, van sinswendinge verstaan en kan deurvoel nie, hoe kan ons dan die gedagte wat die digter vir ons bring, enigsins vat? Om 'n gedig behoorlik te waardeer, is dit nodig om dit aanvanklik, wanneer die smaak nog nie skerp ontwikkel is nie, 'n paar keer sorgvuldig deur te lees en dan die vraag te stel: Wat wou die digter hier meedeel? Hoe het hy dit gedoen? Was dit die moeite werd om 'n dergelike gedagte so mee te deel? As ons so lees, moet dit die noodwendige gevolg hê, dat ons nie dinge sal prys wat waardeloos is nie, en dat ons 'n groter respek kry vir gedigte waarin die lewe self klop. Die woord kultuur word so dikwels gebruik en mense het allerhande spitsvondige definisies daarvoor, maar voordat iemand nie die geestelikfyne kan waardeer nie, kan hy gerus maar daardie woord aan 'n kapstok ophang.

Ons het net aangestip dat daar verskillende soorte gedigte is, gedigte wat vir ons wys op die temperament, die lewensbeskouing, die houding van die skrywer teenoor sy medemense, die natuur, ens. Die vernaamste taak van die kritikus is om dit vas te stel, om die gedigte na hulle innerlike betekenis te karakteriseer. Ons beskou weer 'n gedig van Gezelle om dit toe te lig. Die gediggie heet O Lied.

O Lied! O Lied!
gij helpt de smert
wanneer de rampen raken,
gij kunt, O Lied, de wonde in 't hert,
de wonde in 't hert vermaken!
O Lied! O Lied!
gij laaft de dorst,
gij bluscht het brandend blaken,
gij kunt, o Lied, de droge borst
en 't wee daarvan doen staken.

(82)

O Lied! O Lied!
het zwijgend nat
dat leekt nu langs mijn kaken,
gij kunt het, en uw kunst is dat,
gij kunt het honing maken ...
O Lied! O Lied!

Leer ons nie daaruit die teergevoeligheid van hierdie skugter, innig-fyne digter nie? Voel ons nie in sy woorde die verlossing en seëning wat daar in die lied is vir die hart wat hom wil uitstort nie? So bring die digter ook bevryding vir ons gevoel, bring hy in woorde wat ons wou sê maar nie kon nie. En is dit nie 'n daad van groot innerlike betekenis nie? Dit bring ons van aangesig tot aangesig met die dieper gelaat van dinge, met die tere en vervloeibare van ons emosie-lewe, met die wonder van die bestaan self. Dit plaas ons op 'n plan van algemeen-menslikheid vanwaar ons begrypend en genietens kan skou oor die lewe met al sy rasse, sy geografiese skeidinge, sy verskil in godsdiens en konvensie.

'n Wandelaar wie se hoof vol besigheidsplanne is, wandel buite die stad. Opeens gaan hy staan en hoor die skugter fluistering van die gras, hy merk opeens hoe magtig die son daal agter die rooi van die bulte. Daar ontwaak in hom 'n dieper eerbied vir die wonder, die ewige ritme van die dinge waarvan die dieper sin nou nader aan sy siel gekom het. Op daardie oomblik is die poësie in hom. (83)